Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

President Ramaphosa gryp na Grondwet oor vervanger vir Rasool, keer sy rug op gees van RNE-samewerking

Dit blyk dat pres. Cyril Ramaphosa hom wend na die letter van die Grondwet oor die aanstelling van ‘n nuwe ambassadeur in die plek van Ebrahim Rasool. In die proses keer hy opnuut sy rug op die gees van samewerking in die regering van nasionale eenheid (RNE).

Luidens ‘n berig vandag in News24; “Ramaphosa says there’s no need to consult GNU partners on Ebrahim Rasool’s replacement”, het die president vandag na afloop van die negende kongres van die Demokratiese Verpleegstersorganisasie van Suid-Afrika (Denosa), aan die media gesê hy het nie die RNE-vennote se insette nodig om ‘n opvolger vir Rasool aan te wys nie.

Hy het voorts gesê die president wys ambassadeurs aan en dit is sy binne sy volmag om dit te doen.

Tegnies is die president ingevolge Suid-Afrika se Grondwet reg oor die aanstelling van onder andere ambassadeurs.

Artikel 84(2)(i) van die Grondwet bepaal dat die president ingevolge sy magte en bevoegdhede verantwoordelik is vir “die aanstelling van ambassadeurs, gevolmagtigdes en diplomatieke en konsulêre verteenwoordigers”.

Die VF Plus erken die president se grondwetlike reg hieroor. Nêrens in die Grondwet is daar egter ‘n bepaling wat lui dat buitelandse beleid die prerogatief van ‘n enkele party is nie.

Die VF Plus wil herhaal dat die ANC nie alleen kan bepaal wat Suid-Afrika se beleid is wat sy internasionale betrekkinge rig nie. Tot nou toe is die ANC met sy beleid besig om van Suid-Afrika ‘n internasionale verstoteling te maak.

Hierdie gesprek sal gevoer moet word in die RNE en die beleid oor internasionale betrekkinge sal bepaal moet word deur gesprekvoering en konsensus in die RNE.

Binne daardie ooreengekome raamwerk staan dit die president dan vry om aanstellings te doen. Dan dra dit die gesag van ‘n regering van nasionale eenheid en nie van ‘n enkele party nie.

Sodoende sal uitvoering gegee word aan die gees van samewerking in die regering soos dit behoort te wees.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.