Die voortdurende plaag van kabeldiefstal in Kemptonpark kan nie langer voortduur nie en die Ekurhuleni-metro sal drasties moet optree teen hierdie misdadigers wat noodsaaklike dienste lamlê en inwoners se lewe ontwrig.
In die jongste voorval die afgelope naweek is kabeldiefstal in Karee-, Silverleaf- en Moepelstraat in Birchleigh aangemeld.
ʼn Mini-substasie in Glen Marais en verspreidingspunte in Bredell, Pomona en Bonaeropark is gevandaliseer.
Die kabeldiefstal in Kemptonpark is nie geïsoleerde voorvalle nie. Kragkabels in bogenoemde strate is ook op 15 Januarie gesteel waarna dit vervang is.
Kabeldiefstal plaas nie net ʼn finansiële las op die metro nie, maar laat woonbuurte ook vir lang tydperke sonder krag.
Die VF Plus doen weereens ʼn beroep op die metro om plaaslike sekuriteitsmaatskappy aan te stel om te help om die metro se kritieke infrastruktuur te beveilig.
Die metro moet die beskerming van sy infrastruktuur prioritiseer om te voorkom dat misdadige elemente wetsgehoorsame inwoners benadeel.


