Die VF Plus het met ʼn oorsigbesoek aan die Helen Bishop-ortopediese tehuis vir gestremde kinders, vasgestel dat die tehuis se voortbestaan in die gedrang is weens ʼn gebrek aan befondsing.
Die tehuis voorsien sedert 1950 noodsaaklike sorg aan uiters kwesbare kinders van die samelewing.
Die 61 inwoners se gebreke wissel van serebrale gestremdheid tot spina bifida, ‘n spinale gebrek. Daarvoor het hulle voortdurend mediese sorg nodig.
Mnr. Rodger Adams, voorsitter van die tehuis se raad, het die tehuis se befondsingsprobleme uitgestippel. Dit blyk dat talle pogings om die Noord-Kaapse departement van gesondheid te oortuig om voldoende fondse beskikbaar te stel, op dowe ore val.
Tans is daar ‘n tekort van R150 000 per maand, wat die vermoë om voldoende mediese sorg te verleen, uiters negatief raak.
In ‘n skriftelike verslag beskryf Adams die talryke probleme met die departement in meer besonderhede:
Naas onderbefondsing is daar ook die laat betaling van fondse wat die tehuis wel ontvang, gebrekkige oorsig en kommunikasie met die departement asook ‘n tussentydse kontrak wat noodsaaklike mediese personeel se salarisse uitsluit.
Die VF Plus het ʼn skrywe gerig aan die betrokke LUR, mnr. Maruping Lekwene, en die hoof van die provinsiale departement, mnr. Mxolisi Mlatha, om redes te vra vir die departement se roekelose optrede.
Die departement het ‘n grondwetlike plig om voldoende mediese sorg te voorsien, veral waar gestremde kinders ter sprake is.
Indien hierdie krisis nie gou opgelos word nie, kan dit dieselfde tragiese gevolge as die Life Esidemeni-tragedie in Gauteng tot gevolg hê.
Die VF Plus sal volgehoue druk toepas tot voldoende befondsing beskikbaar gestel word.


