Behoeftige pensioenarisse in Secunda in die Govan Mbeki-plaaslike munisipaliteit (Bethal, Charl Cilliers, Embalenhle, Evander, Kinross, Leandra, Secunda, Trichardt, Emzinoni) sal voortaan ook van eiendomsbelasting kwytgeskeld word.
Dit geld reeds vir behoeftige pensioenarisse in al die ander dorpe.
Dit volg nadat die VF Plus ‘n mosie ingedien het by die munisipale raad met die versoek dat sekere pensioenarisse (60 jaar en ouer) in Secunda as behoeftiges geklassifiseer word om te kwalifiseer vir kortings op hul munisipale rekeninge.
Om as behoeftig beskou te word, moet aansoekers tipies aan spesifieke kriteria voldoen, soos ‘n maandelikse huishoudelike inkomste van R20 000 of minder. Dit sal volgens ‘n inkomsteskaal uitgewerk word.
Die voorstel het dit ten doel om bejaarde burgers se basiese behoeftes te steun, finansiële laste te verlig, waardigheid te bevorder en hul lewenskwaliteit te verbeter.
Verder stel die VF Plus voor dat bejaarde inwoners met munisipale skuld, gelyk behandel moet word onder die huidige deernisbeleid met skuldafskrywings wat op ‘n billike en nie-diskriminerende grondslag vir eiendomseienaars 60 jaar en ouer oorweeg word.
Ten spyte daarvan dat die ANC die mosie verwerp het, het dit geslaag nadat die DA sy steun gebied het. Die uitslag van die stemming was 32 vir en 27 teen.
Met erkenning aan die beduidende bydraes van bejaarde burgers tot die gemeenskap, erken die party die finansiële beperkings wat baie seniors in die gesig staar wat van ‘n vaste inkomste leef. Die huidige ekonomiese klimaat het hierdie probleme vererger.
In ooreenstemming met die beginsels van nie-diskriminasie en gelykheid wat in die Grondwet verskans word, is die munisipaliteit verplig om gelyke behandeling en geleenthede vir alle inwoners te verseker, ongeag hul ras of etniese agtergrond.


