Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Jeugwerkloosheid reeds in ‘n rampspoedige vryval

(Debat in parlement)

Werkloosheid, en in besonder jeugwerkloosheid, is nie langer ‘n dreigende krisis in Suid-Afrika nie. Dit is reeds in ’n rampspoedige vryval wat die res van die land saam na die bodem kan sleep.

Berade, werkswinkels, debatte en aksieplanne gaan niks aan die probleem verander nie. Werksgeleenthede val nie uit die lug nie en kan nie volhoubaar deur ‘n regering geskep word nie.

Werkskepping is onderhewig aan ekonomiese groei wat op sy beurt onderhewig is aan gesonde regeringsbeleid wat beleggings lok en ‘n gesonde arbeidsomgewing skep.

Onderliggend hieraan is ‘n behoorlike onderwysstelsel wat aan jeugdiges die geleentheid kan bied om die nodige kwalifikasies en vaardighede te verwerf om die arbeidsmark te betree.

Wat nou egter gebeur, is dat geskoolde Suid-Afrikaners die land eerder verlaat weens ‘n verskeidenheid redes soos ‘n gebrek aan geleenthede, misdaad en swak dienslewering.

Sowat 23 000 gekwalifiseerde Suid-Afrikaners verlaat die land jaarliks om hul vaardighede elders aan te wend. Dit is juis hulle wat nodig is in die land om te help met werkskepping en groei.

Die gebrek aan dienslewering en ‘n toenemende vervalle infrastruktuur op alle terreine, speel ‘n groot rol in die land se verswakkende ekonomiese situasie en voortspruitende probleme soos werkloosheid.

Talle ander faktore soos gebrekkige kragvoorsiening, onteiening sonder vergoeding, onbekostigbare minimum-lone en geïnstitusionaliseerde diskriminasie op grond van ras is verdere kantellende domino’s van rampspoedige ANC-beleid.

Daar is genoeg potensiaal in Suid-Afrika om die land welvarend te maak met die regte regeringsbeleid waarop almal in die land kan bou aan ‘n gelukkige toekoms. Dit sal egter nie gebeur solank as wat die ANC aan bewind is nie.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.