fbpx
Vryheidsfront Plus

Aksie is nodig om korrupsie uit te roei, nie goedkoop praatjies nie

(Debat in parlement oor negatiewe impak van regeringskorrupsie op mense en ontwikkeling van Suid-Afrika)

Die regering het met slagspreuke soos ' 'n goeie verhaal om te vertel' en ' 'n regering wat omgee', plundering, korrupsie en selfverryking, die land sienderoë laat agteruitgaan ten koste van miljoene verarmde Suid-Afrikaners.

Volgens Transparency International verhoog korrupsie ongelykheid en beïnvloed dit die inkomsteverspreiding negatief. Korrupsie het 'n direkte negatiewe impak op ekonomiese groei en beïnvloed belegging en belasting.

Korrupsie en gepaardgaande swak dienslewering maak mense dood terwyl enkele uitgesoektes voordeel trek. Onlangs het 'n jong skoolonderwyser gesterf in 'n ongeluk as gevolg van 'n slaggat.

Belastingbetalers kry nie waarde vir hul geld nie. Op plaaslike regeringsvlak, betaal inwoners heffings en belastings, maar vullis word nie verwyder nie, daar is nie betroubare water- of elektrisiteitsvoorsiening nie en riool loop in die strate.

Terwyl basiese dienslewering ontbreek en infrastruktuur in duie stort, kan ondernemings nie die ekonomie effektief laat groei en werk skep nie. Staatsinkomste krimp en die armstes ly die meeste.

Diegene wat by korrupsie betrokke is, ondermyn die oppergesag van die reg, soos munisipale bestuurders wat hofbevele ignoreer en ondersoeke ondermyn. Oud-president Jacob Zuma ignoreer selfs 'n beslissing van die Grondwethof.

Daar is niks in Suid-Afrika waaraan die ANC geraak het, wat nie ‘n omkeerstrategie benodig nie. Daar kan nie net goedkoop praatjies wees oor hoe om korrupsie stop te sit nie. Aksie is nodig.

Artikel 217 van die Grondwet bepaal dat enige staatsliggaam wat kontrakte toeken vir goedere en dienste, dit moet doen ooreenkomstig ‘n stelsel wat regverdig, billik, deursigtig, mededingend en kostedoeltreffend is. Nou het dit ‘n teelaarde vir korrupsie geword.

Raak ontslae van wetgewing en regulasies wat die kultuur van tenderpreneurs moontlik maak en van ANC-beleid soos swart ekonomiese bemagtiging (SEB) wat ‘n gunstige omgewing skep vir korrupsie.

Tree op teen oortreders. Nie net teen amptenare nie, maar ook teen politici wat toekyk hoe plundering, soos die Vrede-suiwelprojek, plaasvind sonder om ‘n vinger te verroer.

Versnel die inwerkingstelling van die Wetsontwerp op Openbare Verkryging en sluit 'n klousule in om voorsiening te maak dat alle tenders en kontrakte vir al drie regeringsfere en openbare entiteite gepubliseer en aan die publiek beskikbaar gestel word.

Stel 'n proses bekend, soos in Australië, waar infrastruktuurprojekte ontwikkel word in terme van eie wetgewing wat in die relevante wetgewer ter tafel gelê en vinnig ingestel word.

Die ANC bestuur Suid-Afrika soos 'n piramideskema en die gevolg is dat lede van die samelewing eie inisiatief gaan neem.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.