Die ANC in die Mpumalanga-wetgewer het gister gestem teen ‘n mosie sonder kennisgewing van die VF Plus, dat die provinsiale departement van landbou, landelike ontwikkeling, grond en omgewingsake, gedwing moet word om vrae so ver terug as Maart 2020 te beantwoord.
Die VF Plus het etlike geskrewe en mondelinge vrae aan die departement gerig oor onwettige mynbou, voorgestelde mynbouterreine en ongerehabiliteerde mynbouterreine in die provinsie.
Daar is ook gevra oor ‘n moontlike onwettige mynbouterrein wat ‘n oppervlak van sowat 90 hektaar beslaan. Die vrae is steeds onbeantwoord.
Onwettige mynboubedrywighede bedreig nie net die omgewing nie, maar ook die provinsie se ekonomie.
Die VF Plus het die wetgewer in die mosie gevra om die departement verantwoordelik te hou en te dwing om antwoorde op die vrae teen 17 Maart 2021 te verskaf. Dit sal toon dat daar ‘n gewilligheid is aan die kant van die wetgewer om die departement te dwing om oop kaarte te speel met die publiek.
Die grondbeginsels van goeie bestuur moet begin met iets eenvoudig soos om vrae te beantwoord.
Die VF Plus sal die probleem na die reëls- en etiekkomitee verwys en daarop aandring dat die vrae binne tien dae beantwoord moet word.