Die VF Plus neem met groot kommer kennis van die jongste plaasaanval in Limpopo, dié keer op ‘n bejaarde vrou wat in haar huis in die Georges Valley-omgewing buite Tzaneen aangeval is.
Die voorval het op Donderdagaand, 1 Oktober omstreeks 22:00 plaasgevind. Dit is die eerste aanval in die provinsie vir die maand en volg op ʼn vorige plaasaanval op 13 September in Bela-Bela (Warmbad).
Twee aanvallers het na bewering toegang deur die dak verkry en die 85-jarige vrou oorrompel, van juwele, Krugerrande en haar voertuig beroof. Sy is lig beseer in die voorval.
Die Tzaneen-polisie ondersoek tans die saak.
In die September-voorval in die provinsie is ʼn sekuriteitswag van ʼn gasteplaas omstreeks 03:00 met ʼn mes gesteek toe hy op inbrekers afgekom het. Die verdagtes het met verskeie huishoudelike items gevlug.
Landswyd was daar reeds 17 aanvalle op plase (geen moorde) vir die maand deur die Landelike Veiligheid-statistiekgroep opgeteken.
Die VF Plus spreek sy medelye uit teenoor die slagoffers, families en almal wat deur hierdie traumatiese voorvalle geraak word, uit.
Niemand behoort in vrees in sy of haar eie huis of op eie grond te leef nie.
Met die naderende feesseisoen rig die VF Plus ʼn versoek dat gemeenskappe waaksaam moet wees. Histories neem sekere vorme van opportunistiese misdaad ook voor die aanvang en tydens die feesseisoen toe.
Die VF Plus moedig inwoners ook aan om hul veiligheidsplanne betyds vir die feesseisoen te hersien, kommunikasienetwerke aktief te hou en enige verdagte aktiwiteite onmiddellik aan te meld.
Die party sal voortgaan om sterker landelike veiligheidsmaatreëls, voldoende polisie-teenwoordigheid en daadwerklike optrede teen gewelddadige misdaad te ondersteun.
Veiligheid is nie onderhandelbaar nie.
Die VP Plus vertrou dat die owerhede alles in hul vermoë sal doen om die skuldiges op te spoor en voor die hof te bring.


