Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Geen lopende water, maar wel boorgatheffings in Mbombela

Die VF Plus is gekant teen die ANC-geleide Mbombela-plaaslike munisipaliteit se besluit om voort te gaan met maandelikse heffings op private boorgate, terwyl groot dele van die munisipaliteit steeds nie betroubare lopende water het nie.

Inwoners wend hulle toenemend tot boorgate vanweë die munisipaliteit se onvermoë om ‘n betroubare watertoevoer te verseker, dog word hul nou gestraf met bykomende heffings.

In ‘n onlangse raadsbesluit het die ANC-beheerde raad ‘n mosie van die VF Plus verwerp wat geëis het dat stewige maandelikse heffings op private boorgate afgeskaf word.

Luidens ’n onlangse munisipale dokument word meer as R16,5 miljoen begroot vir watertrokke vir die tydperk 1 Oktober tot 31 Desember 2026. Dit verteenwoordig ’n gemiddelde maandelikse uitgawe van R5,51 miljoen – jaarliks meer as R66 miljoen.

Die dokument lys 46 watertrok-inskrywings wat water aan verskeie wyke en landelike gebiede moet voorsien. Slegs drie daarvan is munisipale watertrokke; kontrakteurs verskaf die res.

Hierdie enorme uitgawes vind plaas teen die agtergrond van die munisipaliteit se voortslepende waterkrisis. Terselfdertyd word inwoners en ondernemings wat van private boorgate gebruik maak, maandelikse heffings opgelê indien hul boorgate aan munisipale infrastruktuur gekoppel is.

Luidens beskikbare inligting beloop hierdie heffings:
• R406,50 per maand vir inwoners per boorgat
• R877,12 vir ondernemings per boorgat
• tot R8 953,20 en R6 688,15 vir bepaalde eiendomme met meer as een boorgat

Die VF Plus dring daarop aan dat Mbombela se benadering tot watervoorsiening ingrypend moet verander. Die miljoene rande wat jaarliks aan die vervoer van water bestee word, moet aangewend word vir permanente waterinfrastruktuur – insluitend die herstel en opgradering van bestaande pyplyne, die ontwikkeling van plaaslike boorgate en die uitbreiding van waternetwerke na onderbediende gemeenskappe.

Die party sal ook aandring op volledige deursigtigheid rondom waterleweringskontrakte, tenderprosesse, koste en die prestasie van kontrakteurs.

Kommer vanuit gemeenskappe dat die voortdurende gebruik van watertrokke ’n winsgewende bedryf geword het, moet deur behoorlike ondersoeke en deursigtige kontrakbestuur aangespreek word.

Die VF Plus se oplossing is duidelik: Beweeg weg van ’n afhanklikheid van watertrokke en belê munisipale fondse in volhoubare waterinfrastruktuur. Dit moet gepaardgaan met kapasiteitsoudits van artikel 56-bestuurders en leefstyloudits binne die voorsieningskettingbestuur om aanspreeklikheid en verantwoordelike besteding te versterk.

Inwoners van Mbombela verdien toegang tot betroubare lopende water – nie ’n ewige afhanklikheid van watertrokke nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.