Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Nog ‘n wrede plaasmoord onderstreep die realiteit van dié euwel en president Ramaphosa moet dit nou erken

Die VF Plus betuig hiermee sy diepste medelye met die naasbestaandes van mev. Hannetjie van Zyl (55), wat gisteraand (Maandag 5 Oktober) op tragiese wyse die jongste slagoffer van ’n wrede plaasmoord geword het.

Mev. Van Zyl is by haar plaashek op die Doornpanpad naby Ottosdal in Noordwes met soveel geweld oor die kop geslaan dat sy op pad na die hospitaal aan haar beserings beswyk het.

Hierdie voorval onderstreep nogmaals die grusame realiteit van plaasaanvalle in Suid-Afrika – ’n werklikheid wat in sekere mediakringe, deur meningsvormers en die regering ontken of as “gewone” misdaad afgemaak word.

Ek versoek president Cyril Ramaphosa daarom om die werklikheid van plaasmoorde nou te erken en te veroordeel, om sy medelye met mev. Van Zyl se naasbestaandes te betuig en om ondubbelsinnig die lied “Kill the Boer, Kill The Farmer” te veroordeel en hom daarteen uitspreek.

Diegene wat opstaan vir bewusmaking oor plaasmoorde, word toenemend as onpatrioties of “ver-regs” gebrandmerk wanneer hulle die internasionale gemeenskap hieroor inlig. Die VF Plus is van mening dat ontkenning meewerk tot die voortsetting van die geweld.

Wanneer die regering en pres. Ramaphosa weier om die omvang van plaasaanvalle te erken en dit tot ’n prioriteitsmisdaad te verklaar, faal hulle in hul primêre grondwetlike plig om alle inwoners van Suid-Afrika te beskerm.

Toe etlike vroue onlangs aan die Oos-Rand vermoor is, het pres. Ramaphosa dit dadelik veroordeel en geëis dat dit prioriteitsaandag geniet. Dit is presies hoe enige ernstige misdaadprobleem hanteer behoort te word. Waarom geld dieselfde dringendheid en amptelike veroordeling nie vir die landbougemeenskap en die lewe van boere nie?

Volgens AfriForum was daar in 2025 altesame 184 plaasaanvalle en 29 plaasmoorde. Hierdie getalle sou ongetwyfeld veel hoër gewees het indien boere en landelike gemeenskappe nie self hul eie beveiliging georganiseer het nie – ’n taak wat vierkantig op die staat se skouers behoort te rus.

Plaasaanvalle is ’n onmiskenbare realiteit, net soos die gevaarlike gevolge van haatspraak en opsweping soos die lied “Kill the Boer”, wat die president eweneens weier om te veroordeel.

Dit is tyd dat alle Suid-Afrikaners wat geregtigheid en menseregte eerbiedig, saamstaan teen hierdie euwel en diegene wat die waarheid probeer verbloem, sien vir wie en wat hulle is.

Die VF Plus sal nie hieroor stilbly nie. Die VF Plus sal voortgaan om die ongeregtighede in Suid-Afrika voor die wêreld te ontbloot en sal hom nie van koers laat dwing deur diegene wat hom met ’n regse etiket probeer stilmaak nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.