Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Druk al hoe groter op vervoer; die land se ekonomiese slagare

(Debat in parlement)

Om ‘n land ekonomies te laat groei moet hy oor ‘n goeie vervoerstelsel beskik. Dit is die slagare van ‘n land se ekonomie. Daarom is dit ‘n krisis wanneer dié are nie gesond gehou word nie.

In Suid-Afrika het padvervoer oor die afgelope tien jaar skerp toegeneem om verskeie redes, waarvan die grootste die verval van die land se spoorstelsel is.

In Suid-Afrika het padvervoer vele uitdagings. Die agteruitgang van die infrastruktuur en ‘n toename in misdaad is vir eienaars van padvervoer-ondernemings sekerlik die grootste probleme.

Eienaars doen reeds baie om werkers en vrag te beskerm, maar dit is in baie gevalle nie genoeg nie. ‘n Voertuig wat uitgebrand word, neem maande om te vervang weens die versekeringseise wat die aankoop vertraag.

Menselewens is onvervangbaar.

Stakings raak die vervoerstelsel uiters negatief en baie van die geweldpleging is vanweë personeel uit Afrika-lande wat in diens geneem word. Vir vervoerfirmas bly die grootste prioriteit om betroubare werkers in diens te neem wat stiptelik werk en vrag op tyd aflewer.

Faktore soos swak paaie, skade aan bande en ‘n stygende brandstofprys, word uiteindelik van die verbruiker verhaal. Net so moet verbruikers ook betaal vir skade weens misdaad en die hoë koste van versekeringspremies.

Daar moet ‘n daadwerklike poging aangewend word om veral oornaggeriewe by grensposte op te knap om langafstand-drywers wat ‘n belangrike diens lewer, se taak te vergemaklik.

Die groeiende rol wat aanlyn-ondernemings in die ekonomie speel, neem snel toe aangesien mense toenemend verkies om goedere by hul huise afgelewer te kry.

Die ekonomiese druk op paaie sal net groter raak en die spoorstelsel moet onvermydelik opgeknap word om hierdie druk te verlig. Sonder hierdie werkende slagare sal die ekonomie in duie stort.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.