Maatskaplike probleme in die land moet aangespreek word om mense se lewensomstandighede te verbeter. Dit wil egter voorkom of die ANC nie erns daarmee het nie en toenemend die rassekaart speel om sy mislukking as regering te verbloem.
Buiten vir ’n paar kaders, het die lewensomstandighede van feitlik alle Suid-Afrikaners onder die ANC verswak.
Werkloosheid in die land is byna 33%, uitgebreide werkloosheid, wat mense insluit wat nie eens meer werk soek nie, byna 43%. Altesame 23 000 geskoolde persone verlaat die land jaarliks terwyl 25 miljoen mense, byna die helfte van die bevolking, ’n maatskaplike toelaag ontvang.
Laasgenoemde is nie ’n prestasie nie, dit is ’n skande en ’n duidelike bewys van regeringsbeleid wat die land se ekonomie vernietig.
Krag- en waterprobleme, swak plaaslike regering en finansiële verliese weens bedrog en korrupsie, word geraam op op R1 biljoen. Dit is geld wat veel kon doen om te help met die land se maatskaplike probleme.
Die VF Plus sal nooit enige vorm van diskriminasie goedkeur nie, veral nie in die werkplek nie. Aanstellings moet op meriete gedoen word sodat die beste persone die gemeenskap kan dien.
Ingevolge die Gelyke Indiensnemingswet wil die staat nou wetlike voorskrifte verskerp oor transformasie-teikens vir sekere sektore in die werkplek. Dit is niks anders nie as kwotas. Vryemark-beginsels word hiermee vertrap.
Om aan sake-ondernemings voor te skryf wie hulle mag aanstel, hoeveel hulle betaal moet word en met wie hulle sake mag doen, is teenproduktief.
’n Voorbeeld is die nasionale minimum-loonverhogings van 16% vir landbou en 23% vir huiswerkers. Dit is nie reg dat mense uitgebuit word nie en waar mense goeie salarisse kan bekostig, moet dit betaal word.
Die maatstaf moet egter bekostigbaarheid wees en dit sal toeneem met ekonomiese groei. Die feit dat mense daarom swak betaal word, moet voor die deur van die regering gelê word.
Tydens die inperkingsperiode is 250 000 huiswerkers werkloos gelaat. Hul gewese werkgewers is ook broodwinners van wie baie ook afgelê is of wie se inkomste gekrimp het. Hulle kan nie ‘n verhoging van 23% bekostig nie.
Soos elders, sal die landbousektor geen keuse hê nie as om mense af te lê. Tog het die regering geen ag geslaan op voorleggings van dié sektor oor die verhoogde loon nie. Dieselfde geld die restaurant- en voedelbedryf waar die departement van arbeid eensydig oor vergoeding besluit het.
Terwyl die staat dit vir die werkende belastingbetaler al hoe moeiliker maak om ekonomies te oorleef, word daar terselfdertyd van die mense verwag om die groeiende aantal werkloses in diens te neem en te vergoed soos die staat voorskryf.
Die staat wil die private sektor reguleer en beheer soos ‘n staatsonderneming, en almal weet wat met Eskom, die SAL en ander ondernemings gebeur het. Die uiteinde sal bloot ‘n verdere verswakking van die ekomie met groter werkloosheid wees.