fbpx
Vryheidsfront Plus

Minimumloon sal landbousektor vernietig

Die minister van arbeid se ondeurdagte verhoging van die minimumloon, veral met betrekking tot plaasarbeiders, gaan nie tot werkskepping of die verlaging van werkloosheid lei nie. Die teenoorgestelde gaan gebeur.

Die vraag wat die ANC-regering nie verstaan nie, is nie óf boere die minimumloon wil betaal nie, maar of hulle dit kán betaal.

Landbou is die enigste sektor in die ekonomie wat tydens die pandemie gegroei het hoofsaaklik wens ‘n hoër produksie van diere- en tuinbouprodukte en veldgewasse.

Dit is egter relatief tot groei in die totale bedryf en is daarom nie werklik ‘n maatstaf vir die bekostigbaarheid van ‘n buitensporige minimumloon-verhoging nie.

Die ANC kan ook in gedagte hou dat sowat die helfte van die totale aantal boere in die land, ‘n jaarlikse omset het van minder as een miljoen rand. Dan kan beswaarlik van enige wins gepraat word.

‘n Enkele minister se inkomste is dubbel die inkomste van die helfte van die land se boere. Dan het hulle nie twintig of dertig werkers om te betaal met ‘n verhoging van 16% op hande nie.

Hulle het nie veevrektes, peste in hul gewasse, droogtes of ‘n hoë insetkoste om hul inkomste te genereer nie. En boere betaal ook belasting.

Onder druk van die ANC het Suid-Afrika afgeskuif tot 69ste plek op die lys van internasionale voedselsekuriteit. Die rooi ligte begin flikker, en tog plaas die ANC-regering al hoe meer druk op die landbousektor.

Boere betree reeds die fase waar hulle geen keuse het as om toenemend hul aktiwiteite te meganiseer of om die handdoek in te gooi nie, veral kleinboere met ‘n omset van minder as R300 000 jaarliks.

Hierdie kleinboere maak die meerderheid uit van die 50% boere met ’n omset van minder as ‘n miljoen rand per jaar. Die beeld in die ANC se kop dat alle boere ryk is, is ‘n blote illusie.

Die regering moet kennis neem van die meganisering wat tans in Brasilië se landbousektor plaasvind ten koste van hande-arbeid. Daar is reeds ‘n situasie van groter plase, groter produksie, groter winste en natuurlik minder werkers.

Suid-Afrika se landbouers is nie almal ryk nie. Almal kan nie ‘n verhoging van 16% vir arbeid bekostig nie. Die ANC gaan hierdie sektor breek met sy optrede en dan kan die land maar sy deure sluit. Sonder kos boonop.

Met die stygende prys van elektrisiteit, water en brandstof, kan ‘n skerp verhoging in arbeidskoste nie bekostig word nie. Die onmiddellike keuse is óf bankrotskap óf ‘n vermindering van werkers. Die keuse spreek vanself.

‘n Regering wat vir sy landbou sorg, sorg vir sy toekoms. Ook hierdie keuse behoort voor die hand liggend te wees.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.