Video’s wat op sosiale media die rondte doen van ‘n duidelik beskonke verkeersbeampte, het die inwoners van Lydenburg in Mpumalanga warm onder die kraag.
Volgens eienaars en werknemers by die Swembad-winkelsentrum, was daar na bewering ook ander verkeersbeamptes wat in hul voertuie gesit en drink het.
Die voorval het Vrydagmiddag gebeur tydens ‘n aksie waar motoriste voorgekeer is om hul voertuig- en bestuurslisensies na te gaan.
Die VF Plus het ‘n dringende skrywe gerig aan Mpumalanga se LUR vir veiligheid, sekuriteit en skakeling, Vusi Shongwe, om ‘n volledige ondersoek na die voorval te doen en aan die wetgewer te rapporteer.
In die video is duidelik dat betrokke verkeersbeampte onvas op sy voete deur ‘n winkel strompel, dan na buite struikel en met ‘n geboë hoof op ‘n stoel gaan sit.
Volgens die VF Plus is die betrokke verkeersbeampte se optrede in stryd met sy burgerlike verantwoordelikheid en dat hy geskors moet word hangende die uitkoms van die ondersoek en indien skuldig bevind, daadwerklik teen hom opgetree word.
Dis ‘n skande dat daar van die publiek verwag word om verkeersreëls en -regulasies na te kom, maar beamptes oortree self die wet.


