Die Gautengse LUR vir finansies, Nomantu Nkomo-Ralehoko, se teleurstellende 2021/22-begrotingstoespraak skiet ver tekort aan oplossings om brandpunte in die provinsie aan te spreek.
Die LUR se versuim om met oplossings vorendag te kom om kritieke probleme in die provinsie te behandel, is ‘n duidelike bewys dat die regering nie die politieke wil of vermoë het om die enorme verval van munisipaliteite om te keer nie.
Munisipaliteite in Gauteng kan lank nie meer hul verpligtinge in terme van begrotings, infrastruktuur, ekonomiese ontwikkeling bybring nie.
Daar word al hoe meer gesteun op hulplenigingsfondse van die nasionale tesourie om noodsaaklike diensverskaffers se rekeninge te vereffen terwyl water- en kragdienste gereeld opgeskort word weens wanbetaling wat inwoners vir dae lank sonder dié dienste laat.
Hoewel die LUR in haar begrotingsrede omslagtig verduidelik het hoe die Covid19-pandemie hanteer gaan word, het sy nagelaat om te verduidelik hoe sy die provinsie se munisipaliteite gaan dwing om hul infrastruktuur-onderhoudsplan uit te voer.
Sy het ook nie melding gemaak van 'n herstelprogram om die munisipaliteite wat tegnies bankrot is en in totale verval verkeer, om te keer nie.
Die enigste afleiding hiervoor is dat dit nie meer moontlik is nie en die ANC se 'back to basics'-omkeerprogram nie voorsiening maak daarvoor om bankrot munisipaliteite te red nie. Dit is bloot 'n term wat gebruik word om wol oor belastingbetalers se oë te trek.
Die Gautengse departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) se begroting van R661 972 miljard is beswaarlik genoeg om munisipaliteite uit die moeilikheid te red en skuld te delg.
Cogta is voortdurend besig om namens munisipaliteite met grootmaatverskaffers soos Eskom, Rand Water en Telkom te onderhandel en met afbetalingsplanne vorendag te kom om te keer dat belastingbetalers onbepaald van dienste ontneem word.
Die VF Plus het by vele geleenthede die LUR van Cogta, Lebogang Maile, gewaarsku dat feitlik al die provinsie se munisipaliteite op die vooraand van bankrotskap staan en dat ‘n omkeerplan in werking gestel moet word.
Munisipaliteite se skuldinvorderingsresultate is totaal ontoereikend wat die grootste oorsaak vir die finansiële verlamming is.
Dit blyk nou dat daar gepoog word om op te maak vir tekorte deur buitensporige hoë munisipale rekeninge te hef aan die beperkte persentasie betalende inwoners.
Volgens die VF Plus het die ANC breekpunt bereik en het hy eenvoudig nie meer die politieke kapitaal om kiesers te inspireer en vertroue in te boesem nie.
Die LUR vir finansies se afgewaterde toespraak slaag nie daarin om inwoners te oortuig dat na almal se belange omgesien word nie.
Die VF Plus benadruk sy rol van opposisieparty om verteenwoordiging te bring waar daar blindelings deur die ANC voortgestruikel word.