Ná volgehoue druk van die VF Plus het die Polokwane-plaaslike munisipaliteit (Polokwane / Pietersburg) die vele waterlekkasies in Voortrekkerpark herstel, die omgewing opgeruim en die swembad skoongemaak om die park weer veilig vir inwoners te maak om te besoek en te geniet.
Besorgde inwoners van die omgewing het die VF Plus genader oor haweloses wat in Voortrekkerpark woon sonder die nodige ablusiegeriewe, die infrastruktuur vandaliseer en bome afkap vir vuurmaakhout.
Die VF Plus het druk op die munisipale komitee vir gemeenskapsveiligheid geplaas oor die probleme en Phineas Mahlatji, bestuurder vir gemeenskapsveiligheid het ingestem om ‘n oorsigbesoek te bring aan die gebied.
Die munisipaliteit het hierna ‘n span werkers na die park gestuur en het nege waterlekkasies herstel, gras gesny, bome gesnoei en vullis verwyder. ‘n Heining wat na bewering deur dwelmhandelaars omgery is om handel te dryf, is ook herstel.
Die munisipaliteit het ook onderneem om in samewerking met die polisie die gebied te beveilig.
Hierdie is ‘n bewys dat druk op die munisipaliteit om sy verpligtinge teenoor inwoners na te kom, wel vrugte kan afwerp.
Dit moet egter nie nodig wees om die munisipaliteit te dreig of te dwing om sy diensleweringsverpligtinge teenoor inwoners na te kom nie.
Polokwane gaan al ‘n geruime tyd gebuk onder watertekorte. Waterlekkasies wat ly tot groot waterverliese moet dus ‘n prioriteit vir die munisipaliteit wees. So ook die veiligheid van die gemeenskap.
Die VF Plus sal sy waghondfunksie aanhou vervul tot voordeel van alle inwoners en hul reg tot ordentlike dienslewering en ‘n veilige omgewing.
Navrae: 076 538 9520