Die inwoners van die Matjhabeng- en Nala-plaaslike munisipaliteite mag nie gestraf word vir dié munisipaliteite se opgehoopte waterskuld aan die waterverskaffer Vaal Sentraal nie.
Die VF Plus is bewus van Vaal Sentraal se voorneme om watertoevoer na dié munisipaliteite te beperk weens agterstallige waterskuld.
Matjhabeng skuld Vaal Sentraal meer as R6,7 miljard terwyl Nala se skuld meer as R390 miljoen verloop.
Die VF Plus het die Vrystaatse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Teboho Mokoena, hiervan in kennis gestel en sal op provinsiale en munisipale vlak druk toepas om te verseker dat die munisipaliteite hul verpligtinge teenoor inwoners en die waterverskaffer nakom.
Die munisipaliteite het glo intussen wel betalings aan die waterverskaffer gemaak ná VF Plus-druk op beide munisipale bestuurders.
Die tyd het aangebreek dat wanfunksionele munisipaliteite in die Vrystaat vir hulle mislukkings verantwoordbaar gehou word en stappe teen amptenare geneem word wat nie in die belang van inwoners optree nie.


