Die ANC-geleide raad in die sukkelende Matlosana-plaaslike munisipaliteit het Vrydag die aankoop van ʼn voertuig van R620 000 vir die omstrede ANC-hoofsweep, Khaya Ndincede, goedgekeur.
Dít terwyl ʼn ondersoek na Ndincede se skynbare misbruik van ʼn munisipale kredietkaart vir brandstofaankope, reeds vir byna nege maande sloer.
Werkspanne in tegniese dienste en ander diensleweringsafdelings van die munisipaliteit word ook reeds vir jare gekniehalter deur ʼn gebrek aan voertuie. ʼn Groot deel van die munisipale voertuigvloot is lank reeds ondiensbaar.
Wat die ondersoek na Ndincede aanbetref, blyk dit uit ʼn voorlopige verslag dat brandstof vir maande aangekoop is in onder meer in die Vrystaat, Gauteng en die Oos Kaap. Dit is onduidelik of die reise amptelik was.
Die VF Plus het die raadsbesuit teengestaan en in ʼn dringende skrywe aan die speaker, Stella Mondlane-Ngwenya, daarop aangedring dat die aangeleentheid hersien word en die uitstaande ondersoek afgehandel word.
Die party het ook uitgewys dat die aankoop van die voertuig onreëlmatig sal wees weens proseduriële tekortkominge in die goedkeuringsproses.
Die VF Plus sal bly stry vir ʼn skoon en verantwoordbare regering wat dienslewering vir die gemeenskappe van Klerksdorp, Stilfontein, Orkney en Hartbeesfontein vooropstel.