Die VF Plus doen ʼn beroep op die inwoners van Limpopo om enige onwettige dwelmvervaardiging en -handel aan die polisie te rapporteer.
Danksy inligting vanuit die gemeenskap wat onder die Valke se aandag gebring is, kon dié eenheid, in samewerking met die polisie se taktiese reaksiespan, toeslaan op ’n dwelmlaboratorium op Groblersdal.
Verskeie mense is verlede Vrydag (19 Julie) in hegtenis geneem en luidens mediaberigte is daar op dwelms en toerusting van sowat R2 miljard beslag gelê.
’n Plaaseienaar en twee Meksikaanse burgers is onder andere vasgetrek en sal vandag in die landroshof verskyn op aanklagte van die vervaardiging, handel in- en besit van onwettige dwelms.
Die teenwoordigheid van Meksikane is kommerwekkend aangesien dit bekend is dat dié land gevaarlike en goed georganiseerde dwelmkartelle het.
Die feit dat hierdie soort misdaad nou sy voet in dié provinsie geplant het, moet die gevaarligte vir elke inwoner laat flikker.
Die polisie moet ag slaan op wenke van die gemeenskap oor moontlike onwettige dwelmvervaardiging en -handel en moenie verslagdoening ontmoedig deur oproepe tot optrede te ignoreer nie.
Die VF Plus doen ’n beroep op inwoners van Limpopo om proaktief te wees en dit ‘n prioriteit te maak om enige verdagte aktiwiteite by die polisie of Valke aan te meld.
Saam kan ons mekaar beskerm en ‘n veilige omgewing skep vir ons kinders om verantwoordelike volwassenes te word.


