Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Dekades se leë beloftes kan deur nuwe energie van die RNE ontsluit word tot ware ontwikkeling

Dr. Corné Mulder
VF Plus-LP en parlementêre leier
18 Julie 2024

Met vorige staatsredes het dit gewoonlik geblyk dat die ANC-staatshoof wel die land se probleme raakgesien en beloftes daaroor gemaak het wat nooit gerealiseer het nie.

Vanaand se beloftes is ook nie nuut nie. Die betrokkenheid en nuwe energie van vennote in die regering van nasionale eenheid (RNE) kan dit egter verander deur ʼn opregte verbintenis tot sukses en ʼn nasionale dialoog om alle rolspelers te betrek.

Hier sal die VF Plus sy rol ten volle speel om toe te sien dat die beloftes uitgevoer word.

President Cyril Ramaphosa se staatsrede vanaand was duidelik ʼn inklusiewe staatsrede wat die insette van die RNE-vennote omarm het. Klem is veral gelê op groei, werkskepping en infrastruktuur-ontwikkeling.

Vir die eerste keer in dekades kan gewone Suid-Afrikaners nou hul hoop en verwagting daarop plaas dat die staatsrede-beloftes nie net leë woorde is nie.

Daar rus nou ʼn groot verantwoordelikheid op die skouers van die RNE-vennote om alles moontlik te doen met hul insette en betrokkenheid in die uitvoerende gesag om toe te sien dat die bal daadwerklik aan die rol gesit word om die beloftes in dade om te sit.

Die realiteit sal dikteer dat die magdom beloftes van president Ramaphosa om Suid-Afrika oornag in ʼn Utopia te omskep, te veel gevra is in een termyn. Daar moet vir eers gefokus word op dit wat wel binne bereik is.

ʼn Groot vals noot was die aankondiging dat die nasionale gesondheidsversekering (NGV) nie van die baan is nie. Daaroor sal nog koppe gestamp word.

Opvallend was dat die president as vertrekpunt vir inklusiewe groei, werkskepping en transformasie die fokus geplaas het op kundigheid en bevoegdheid in die eerste plek, veral wat senior poste in munisipaliteite en metro’s aanbetref.

Dit moet die pad voorberei om ware swart ekonomiese bemagtiging (SEB) te bereik. Dit is een van die dinge wat die VF Plus jare reeds bepleit.

Gesonde ekonomiese groei deur die uitskakeling van patronaatskap ten koste van bevoegdheid kan die weg baan na ʼn arbeidsmark waar almal aan die tafel van sukses kan aansit en werkloosheid toenemend uitgeroei kan word.

Net dit kan lei tot ware gelykheid vir almal.

Ander positiewe punte is dat staatsgrond daadwerklik aangewend moet word vir grondhervorming, ʼn sterk fokus op infrastruktuur en die omkeer van wanfunksionele munisipaliteite.

Klem is ook gelê op die allerbelangrike rol van die private sektor om mee te help om groei te help bewerkstellig en beleggers te lok. Die staat alleen kan dit nie vermag nie.

Die president se belofte is dat die land in ʼn reuse konstruksieperseel omskep moet word. Damme, skole, hospitale en paaie moet gebou word.

ʼn Kultuur om openbare infrastruktuur te onderhou, moet gekweek word. Tot nou toe was daar ʼn neiging om dit te laat verval sodra dit gebou is. Net so het die vervaardigingsektor agteruitgegaan.

Suid-Afrika moet sy groot rykdom aan minerale hulpbronne self ontwikkel en prosesseer. Die land moet fokus op hernieude industrialisering en nie sy rykdom bloot uitvoer nie.

Klein- en mediumgroot-ondernemings moet ondersteun en ontwikkel word. Dit is die ruggraat van ʼn land se ekonomie en alles moontlik moet gedoen word om hulle te help om werk te skep. Administratiewe rompslomp moet uitgeskakel word.

Hierdie en ander voornemens oor ontwikkeling deur natuurlike energiebenutting, jeugontwikkeling en ʼn nasionale dialoog om alles saam te bind sal deur elke Suid-Afrikaner verwelkom word.

Die verskil is dat die beloftes ʼn mens voorheen gelaat het met die wete dat daar niks van sal kom nie. Hierdie keer is daar verantwoordelike partye soos die VF Plus betrokke wat kan meehelp om die bal aan die rol te sit.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.