Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Skaf maandelikse kragheffing af vir klein sakeondernemings in Nelson Mandelabaai

Die VF Plus het ʼn mosie by die speaker van die Nelson Mandelabaai-metroraad, me. Eugene Johnson, ingedien om die maandelikse kragheffing vir klein sakeondernemings in die metro te herroep.

Dié mosie volg op die maandelikse basiese kragheffing van R334,12 wat op 15 Julie ingestel is en van toepassing is op klein sakeondernemings wat gebruik maak van voorafbetaalde krag.

Die VF Plus is sterk gekant teen die kragheffing en is van mening dat dit ʼn onbillike finansiële las plaas op klein sakeondernemings wat reeds onder finansiële druk is.

Klein sakeondernemings speel ʼn belangrike rol in die plaaslike ekonomie veral met werkskepping. Hierdie heffing is ʼn bedreiging vir hul lewensvatbaarheid en voortbestaan.

Eienaars van hierdie ondernemings sal waarskynlik gedwing word om hul personeel- en bedryfskoste te hersien wat moontlik kan lei tot werksverliese en die afskaal van bedrywighede.

Die huidige onstabiliteit van die kragnetwerk skep reeds beduidende uitdagings vir klein sakeondernemings wat soms noodgedwonge ook voorsiening moet maak vir kragopwekkers wanneer daar ladingsverminderings is.

Om hierdie heffing bo-op hierdie uitdagings te voeg, is nie net onbillik nie, maar ook teenproduktief vir ekonomiese groei en stabiliteit.

Die VF Plus glo dat die metro eerder daarop moet fokus om sy inkomstestroom te verbeter deur op nie-betalers van dienste toe te slaan.

Die party doen dus ʼn beroep op die metroraad om deeglik oor die heffing te besin en die langtermynimpak wat dit gaan hê op die voortbestaan van klein sakeondernemings en die gemeenskap.

Die VF Plus is nie gekant teen tariefverhogings nie, maar dan moet dit billik en regverdig wees en nie kwesbare sektore benadeel nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.