Die VF Plus het voorstelle ingehandig by die Ekurhuleni-metro se energieafdeling om veldbrande en die gepaardgaande skade by kritieke kraginfrastruktuur te voorkom of te beperk.
Dit volg nadat ʼn veldbrand onlangs langs Modderfonteinweg in Kemptonpark uitgebreek het wat kraginfrastruktuur vernietig het en inwoners van Esterpark vir 48 sonder krag gelaat het.
Die brandweer het ure lank gespook om die brand in bedwang te bring.
ʼn Tweede veldbrand het Woensdagoggend uitgebreek langs Mooifonteinweg in Terenure, Kemptonpark.
Die VF Plus het die energieafdeling versoek om doeltreffende stappe te neem om sulke voorvalle te voorkom en het die volgende voorstelle ingedien:
- Roetine-inspeksies en gereelde instandhouding van kraginfrastruktuur om potensiële brandgevare te identifiseer en te voorkom.
- Die vestiging en onderhoud van brandbane om kritieke infrastruktuur te beskerm en die verspreiding van veldbrande te voorkom.
- ʼn Bewusmakingsveldtog om inwoners op te voed oor brandveiligheid en voorkomingsmaatreëls teen veldbrande.
- Verbeter die kapasiteit en gereedheid van plaaslike noodreaksiespanne om veldbrande effektief te bestry.
Die VF Plus sal nou met die metro se energieafdeling saamwerk om skade aan kritieke infrastruktuur te beperk.