(Begrotingsdebat in parlement: Landbou en grondhervorming)
Die politieke en tegniese sye van landbou is twee kante van dieselfde munt en om die een aan die ander ondergeskik te stel, is om noemenswaardige risiko te skep.
Grondbesit staan altyd in ‘n verhouding tot die verspreiding van politieke mag, teenswoordig of histories. Wanneer ‘n politieke grondverskuiwing plaasvind, soos dertig jaar gelede in Suid-Afrika, bou die druk op om grondbesit daarmee in ooreenstemming te bring.
Om dié druk te ignoreer of selfs te frustreer, laat dit slegs toeneem. Hoe langer die druk opbou, hoe groter word die plofkrag daarvan.
Aan die ander kant is ‘n ondeurdagte herverdeling van grond, sonder inagneming van die vaardigheid van nuwe eienaars om voedselproduksie in stand te hou, nie juis beter nie.
Voedseltekort kweek rewolusie, selfs teenoor ‘n owerheid wat homself as rewolusionêr sou beskryf.
Met Afrikaners se magsverlies is die gemeenskaplike verhouding tussen Afrikaners en grond geprivatiseer. Anders gestel, buiten Orania, is daar nie meer Afrikanergrond nie. Daar is wel baie grond wat aan individuele Afrikaners behoort, maar dit kan oornag ander eienaars kry.
Swart gemeenskappe het regdeur die geskiedenis hierdie verbintenis tot spesifieke grond behou, al was dit ekonomies en polities onvoldoende. Dit is ‘n verbintenis wat Afrikaners deur die markmeganisme, wat hiervoor nie ‘n sterk instrument is nie, probeer behou.
Om dit binne hierdie logika te hou, word grond tot kommoditeit gereduseer; tot ‘n ekonomiese hulpbron wat sonder emosie benader moet word.
Partye wat grondhervorming voorstaan, selfs deur onteiening sonder vergoeding, wantrou hierdie benadering. Hulle beskou dit as ‘n manier om historiese bevoorregting te verskans.
Indien ‘n skikking oor grondbesit nodig is, is dit nodig om die politieke betekenis van grond vir Afrikaners, soos vir ander gemeenskappe, te erken. Daar moet grond wees wat vir Afrikaners as kulturele verwysingspunt kan dien.
Dit is die soort wederkerige erkenning wat Suid-Afrika nodig het om die dooiepunt oor grond te deurbreek. Een wat dit vir Afrikaners moontlik maak om te help om Suid-Afrika te transformeer, juis omdat gemeenskaplike belang beveilig en erken word.
Dit is dan die tweeledige taak van hierdie departemente wat besig is om te skei: Maak dit landboukundig moontlik om die land te voed; en maak dit polities moontlik vir elkeen om skouer aan die wiel te sit.