Die VF Plus verstaan die frustrasies van inwoners in sekere gedeeltes van Centurion wat sedert 4 April sonder krag is weens ʼn brand by die Brakfontein-substasie in Rooihuiskraal.
Geweld gaan egter nie die probleem oplos nie en vertraag eerder die herstelproses aan die substasie.
Twee dele, Mall@Reds, Amberfield I en Amberfield II en dele van Rooihuiskraal-Noord wat vir die afgelope agt dae sonder krag was, se kragtoevoer is herstel.
Rooihuiskraal-uitbreiding 5 en Heuweloord is egter steeds sonder krag.
Die burgemeester van die Tshwane-metro, Nasiphi Moya, het verlede Vrydag, 11 April, die substasie besoek en inwoners verseker dat die hele gebied se krag teen die aand herstel sal wees.
Inwoners het daarna ʼn afleweringsvoertuig wat nuwe kabels vervoer, toegang tot die substasie geweier. Dit het die herstelproses met 5 ure vertraag.
In Heuweloord het ontstoke inwoners vanoggend plaveistene na motoriste op die R55 gegooi.
Herstelwerk aan so ʼn groot substasie duur gewoonlik nie minder as 14 dae nie.
Die VF Plus het vir mense sonder krag vrieskasspasie gereël by die NG-gemeente Raslouw en het die Burgerbox-padkafee genader om mense toe te laat om hul selfone daar te herlaai.
Die oorsaak van die brand is nog nie vasgestel nie.


