Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Hofuitspraak wys dat Mpumalanga-regering roekeloos omgaan met belastinggeld en sistemiese korrupsie oor dekades strek

Die Gautengse hooggeregshof se uitspraak ten gunste van die maatskappy Grand Valley Estates van die bewaringsaktivis Fred Daniel is nog ʼn bewys dat die provinsiale regering van Mpumalanga roekeloos omgaan met belastingbetalersgeld.

Die hof het beveel dat Mpumalanga se toerisme- en parkagentskap (MTPA) en die grondherstelkommissaris, ʼn bedrag van R306 109 240 plus rente teen 11.5%, terugwerkend vanaf November 2024, aan Grand Valley Estates betaal.

Hierdie uitspraak is nie bloot ’n finansiële beslissing en ʼn straf vir Mpumalanga se belastingbetalers nie, maar ’n regspraak oor sistemiese korrupsie en politieke sameswering wat oor dekades gestrek het. Dit ontbloot ’n patroon van magsmisbruik en administratiewe sabotasie wat nie net ’n individu benadeel het nie, maar die integriteit van openbare instellings ondermyn het.

Die oorsprong van die saak lê in ’n langdurige dispuut wat reeds in die laat jare van 1990 begin het toe Daniel die Nkomazi Wilderness Reserve, ’n volhoubare wildreservaat van 39 000 hektaar in die Badplaas-gebied, gevestig het.

Die hof het bevind dat Daniel se bewaringsprojek doelbewus ondermyn is deur onwettige inmenging, waaronder valse grondhersteleise en intimidasie.

Daar is spesifiek verwys na ’n gekonsentreerde poging van die MTPA, die Grondherstelkommissaris en ander rolspelers, insluitend die ontslape voormalige premier David Mabuza en makelaar Pieter Visagie, om druk op Daniel uit te oefen om sy grond te verkoop.

Die VF Plus beklemtoon dat hierdie hofuitspraak ’n ernstige finansiële terugslag vir die provinsie inhou.

Fondse wat andersins aangewend kon word vir noodsaaklike dienslewering soos onderwys, gesondheidsorg en infrastruktuur, moet nou gebruik word om die skadevergoeding te dek.

Ten einde toekomstige wanpraktyke te voorkom, doen die VF Plus ’n dringende beroep op volle deursigtigheid in die grondherstelproses, strenger toesig deur owerhede op alle vlakke en verdere ondersoeke na soortgelyke gevalle om volhoubare ontwikkeling en regverdigheid te bevorder.

Die VF Plus sal nie toekyk hoe belastingbetalers die prys betaal vir politieke inmenging en administratiewe wanbestuur nie. Hierdie hofuitspraak is ’n wekroep vir groter aanspreeklikheid en etiese bestuur van openbare fondse.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.