Die omstrede MK-LP, Mzwanele Manyi, trek tans heelwat aandag met sy voorgestelde wysiging van die Grondwet.
Indien dit wet sou word, sal dit alle verwysings na vergoeding vir onteiening van grond en ander natuurlike hulpbronne verwyder. Alle grond sal in besit van die staat as rentmeester wees, met tradisionele en Khoi-Sanleiers wat in die toedeling daarvan betrek sal word. Verder sal die afsnypunt vir grondeise tot 6 April 1652 verskuif word, pleks van 1913.
Hierdie wysiging, wat op 29 September by die Nasionale Vergadering (NV) ingedien is, het geen kans om die vereiste tweederde meerderheid te monster wat nodig is om te slaag nie. Dit trek egter die aandag af van ‘n ander wet wat tans deur die departement van grondhervorming en landelike ontwikkeling voorberei word.
Dit is die Wetsontwerp op die Gelyke Toegang tot Grond, of in Engels die Equitable Access to Land Bill.
Die departement het reeds twee keer vanjaar aan die parlementêre portefeuljekomitee voorleggings oor vordering met dié wet gedoen, terwyl die volgende vorderingsverslag vir 19 November geskeduleer is.
Volgens die departement is die doel van die wetsontwerp om grondbesit vinniger met die demografie in ooreenstemming te bring as wat volgens heersende wetgewing moontlik is. Dit word as die volgende legkaartstuk, na die Onteieningswet, wat vir nul-vergoeding voorsiening maak, voorgehou.
Indien dit wet word, sal die staat in elke distriksmunisipale gebied ‘n “billike” plaasgrootte bepaal. Grondbesit wat daardie grootte oorskry, sal as “botallig” verklaar word en vir onteiening beskikbaar wees – selfs teen nul-vergoeding.
Die wetsontwerp het nog nie voor die kabinet gedien nie en is dus ook nog nie gepubliseer nie. Dit is dus nog nie moontlik om amptelik daarteen beswaar aan te teken nie.
Teenoor die populistiese Manyi-wetsontwerp mag die Billike Toegang tot Grond-wetsontwerp moontlik as ‘n goue middeweg aangebied word. Dit sal egter dieselfde rampspoedige gevolge hê.
Hier gaan dit nie slegs oor kwessies soos voedselsekerheid, beleggings en eiendomsreg nie, dit gaan oor die herverspreiding van grond as simboliese daad, meer as oor die ekonomie. Dit gaan daaroor om minderhede wat ‘n ekonomiese rol buite verhouding tot hul getalle speel, op ekonomiese en simboliese vlak “op hul plek te sit”.
Teen hierdie agtergrond is Manyi se voorgestelde wysiging van die Grondwet slegs ‘n manier om die aandag van die werklike aanslag af te lei.
Die VF Plus sal egter nie onkant betrap word nie en sal hierdie soort wetgewing binne die parlement en kabinet bestry.


