Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Ekurhuleni sluit sy oë vir verval by bejaarde behuisingsentrum

Die Ekurhuleni-metro wil nie die verantwoordelikheid aanvaar om bejaarde behuisingsentrums wat aan die metro behoort, in stand te hou en te sorg dat bejaardes nie in vervalle geboue woon nie.

Die VF Plus het vandeesweek ʼn oorsigbesoek gebring aan die Andries Scribante-woonstelblok in Casonstraat, Boksburg, om ondersoek in te stel of die metro al enige onderhoudswerk aan die sentrum gedoen het sedert die party se versoek het om daadwerklik in te gryp.

Die VF Plus het op 31 Julie vanjaar die burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersettings, Kgopelo Hollo, gevra oor die vervalle woonstelblok en daarop aangedring dat die metro ernstige strukturele probleme moet laat herstel. Daar woon sowat 200 bejaardes in die sentrum met 100 eenhede.

Hollo het in ʼn skrywe bevestig dat rioolprobleme wel by die sentrum herstel is, maar tydens die oorsigbesoek is die party meegedeel dit is nie gedoen nie. Geen ander herstelwerk is ook gedoen nie.

Bejaardes, waarvan die oorgrote meerderheid afhanklik is van ʼn klein pensioen, gebruik jare reeds hul eie geld om onderhoudswerk te doen.

Water stroom tans uit geroeste waterpype en selfs riool vloei woonstelle binne. Die mure is met swamme oortrek en houtstrukture is deurweek met water.

Strukturele verval is ook aan die orde van die dag met plafonne wat afskilfer en verkrummel. Daar is groot krake in die mure wat veroorsaak dat groot stukke sement uitval. Die bakstene agter die pleisterwerk is ook besig om te verkrummel.

Die omgewing buite die sentrum is gevaarlik vir bejaardes om in te beweeg weens plaveisel wat losgekom het.

Die inwoners van Andries Scribante se gesondheid en welstand word bedreig en daarom sal die VF Plus voortgaan om druk op die burgemeesterskomiteelid te plaas om te sorg dat herstelwerk aan die sentrum behoorlik gedoen word.

Indien die metro voortgaan om die versoeke te ignoreer, sal die party ʼn klag by die menseregtekommissie (MRK) aanhangig maak.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.