Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Herstel en bou die ekonomiese hartland van Suid-Afrika – VF Plus-manifes vir Gauteng

Die VF Plus het vandag sy provinsiale manifes en premierskandidaat vir Gauteng bekend gestel.

Die ANC regeer Gauteng sedert die 2019-provinsiale verkiesing slegs met ʼn een setel-meerderheid en kon in die 2021-plaaslike regeringsverkiesing nie ʼn volstrekte meerderheid in die provinsie behaal nie.

ʼn Koalisieregering ná 29 Mei 2024 bestaande uit partye van die Veelpartyhandves, waarvan die VF Plus deel uitmaak, is die enigste uitweg om Gauteng weer op die wenpad te plaas.

Die VF Plus het reeds ‘n bewese rekord as ‘n party wat deel van koalisieregerings in munisipaliteite goed regeer en die omstandighede van inwoners verbeter.

Die VF Plus se Gautengse premierskandidaat, mnr. Jaco Mulder, het in die manifes vir Gauteng tien fokuspunte uitgelig wat die ekonomiese hartland van Suid-Afrika moet herstel en bou.

1.⁠ ⁠Behoud en uitbou van Christelike waardes;
2.⁠ ⁠Die daarstelling van ʼn koalisieregering in Gauteng;
3.⁠ ⁠Herstel die ekonomie en bou welvaart in Gauteng;
4.⁠ ⁠Herstel krag- en watervoorsiening;
5.⁠ ⁠Skep ʼn veilige leefruimte sonder misdaad;
6.⁠ ⁠Gehalte onderwys en vaardigheidsontwikkeling;
7.⁠ ⁠Erken diversiteit en bevorder kuns en kultuur;
8.⁠ ⁠Bevorder gesondheidsorg en maatskaplike ontwikkeling;
9.⁠ ⁠Effektiewe plaaslike regering; en
10.⁠ ⁠Ontwikkel infrastruktuur, paaie en behuising.

Gauteng mag geografies die kleinste provinsie in Suid-Afrika wees, maar is die digbevolkte en huisves die land se drie grootste metrorade; Johannesburg, Tshwane en Ekurhuleni.

Groter besluitnemingsbevoegdheid moet ná die 29 Mei 2024-algemene verkiesing afgewentel word na die ekonomiese hartland van Suid-Afrika met die vierde grootste ekonomie in Afrika.

Met die veelparty-koalisie in beheer, kan die provinsie ook sy eie grondwet skryf wat Gauteng minder afhanklik van die nasionale regering sal maak.

Die VF Plus word sedert 1994 ononderbroke verteenwoordig in die Gautengse wetgewer en sal stabiliteit in die provinsie verseker soos in die munisipaliteite waar die party reeds ʼn bewese rekord as betroubare koalisievennoot gevestig het.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.