Die meer as 200 inwoners van die Vriendskapstuiste-tehuis vir bejaardes, is reeds vir vier dae sonder elektrisiteit nadat die Rand West-plaaslike munisipaliteit ʼn kontrakteur se hulp moes inroep om kragkabels te herstel.
Twee elektriese toevoerkabels wat die tehuis van krag voorsien, het Vrydag onklaar geraak.
Rand West het sy tegniese personeel uitgestuur om dit te herstel. Hulle het egter nie die nodige kundigheid of toerusting gehad om die fout te herstel nie.
ʼn Kontrakteur se hulp is ingeroep en hy is tans besig om die kabels te herstel.
Intussen is die bejaardes van die buitewêreld afgesny en kan nie hul naasbestaandes per telefoon kontak nie.
Kos in die yskaste het reeds sleg geword en daar moet daagliks kos aangekoop word.
Die sekuriteitstelsel is buite werking en inwoners moet boonop in koue water bad en stort.
Hierdie is net nog ʼn bewys dat die ANC nie bevoeg is om ʼn munisipaliteit te bestuur nie.
Indien Rand West kundige personeel op meriete aangestel het, ongeag hul velkleur, en gesorg het dat hulle die nodige toerusting het, sou dit nie nodig gewees het om ʼn onnodige uitgawe aan te gaan vir ʼn kontrakteur nie.
Onder die ANC het Randfontein en Westonaria drasties agteruit gegaan.
Die tyd het aangebreek om van die ANC in Gauteng ontslae te raak en te vervang met ʼn koalisieregering waarvan die VF Plus deel is.
Sonder die ANC kan Gauteng en sy munisipaliteite herstel en opgebou word.