Die VF Plus verwelkom die polisiespanne wat die afgelope naweek vermeende lede van ʼn bloulig-kapingsbende op die N3-snelweg vasgetrek het.
Die bende word verbind met verskeie aanvalle in die gebied tussen Villiers en Heidelberg.
Drie lede van die bende is in die voorval dood.
Toenemende kapings, moorde en aanvalle op die N3 die afgelope jaar het padgebruikers se veiligheid in gedrang gebring.
Die VF Plus het in Junie 2023 met die aanval op adj.off. Neels du Randt daarop aangedring dat die Vrystaatse polisiekommissaris, lt.genl. Baile Motswenyane, ‘n spesiale taakspan moet aanstel om die voortdurende kapings in die Vrystaat, veral op die N3 tussen Warden en Heidelberg, stop te sit.
In een voorval is nege vragmotors tegelyk tot stilstand gedwing en met petrolbomme bestook.
Dit is van kardinale belang dat misdadigers verantwoordelik gehou word vir hul optrede.
Die VF Plus sal voortgaan om druk op die regering te plaas om doeltreffende maatreëls teen georganiseerde misdaad in te stel.
Die VF Plus hoop dat die sterk optrede ‘n duidelike boodskap stuur dat misdadigers nie welkom is in Suid-Afrika nie.