Die Grondwethof se uitspraak vandag oor die Sassa-debakel is lank nie die einde van minister Bathabile Dlamini se probleme rondom hierdie saak nie. Dit is net die begin daarvan, sê Corné Mulder, hoofsweep van die VF Plus.
Die hof het beslis dat Cash Paymaster Services (CPS) vir die volgende twaalf maande moet voortgaan om sosiale toelae te betaal omdat daar tans geen alternatief bestaan nie. Die diens sal egter op streng voorwaardes en onder toesig van die hof geskied.
Dr. Mulder sê in die uitspraak is dit baie duidelik gemaak dat die uitvoerende gesag gefaal het in sy grondwetlike plig.
“Wat min. Dlamini aanbetref het die hof dit duidelik gemaak dat sy die verantwoordelike persoon is nie net om leiding aan Sassa te gee nie, maar om as politieke hoof volle verantwoordelikheid vir die situasie te aanvaar.
“Sy word nou in haar persoonlike hoedanigheid as ‘n party tot die geding gevoeg. Sy moet ook haar optrede aan die hof kom verduidelik, asook waarom sy versuim het om gehoor te gee aan die hof se uitspraak sowat drie jaar gelede.
“Dit is veelseggend dat die kostebevel voorbehou word. Duidelik wil die hof min. Dlamini aanhoor voordat hy finaal daaroor besluit,” sê dr. Mulder.
Kontaknommers: 083 626 1497 / 083 419 5403