Die VF Plus het gister, tydens 'n sitting van die Gautengse wetgewer, die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (COGTA), Paul Mashatile, getakel oor die aanranding en dreigemente teen VF Plus-raadslede in die Johannesburgse metro en Mogale City/Krugersdorp.
Die VF Plus se LPW van Gauteng, mnr. Philip van Staden, het behoorlik onder Mashatile ingeklim en wou by hom weet waarom hy toelaat dat ANC-raadslede opposisie-raadslede aanrand in die Tshwane-metro en die Wesrand-distriksmunisipaliteit asook dat raadslede in die Johannesburg-metro se lewens bedreig word. Van Staden het Mashatile daarvan beskuldig dat hy deur middel van die ANC s speaker in Mogale City poog om die stadsraad omver te werp en oor te neem sonder 'n verkiesing.
Van Staden het, onder andere, die volgende in sy toespraak gesê: "Nee ek hoor wat die LUR vanoggend sê en dit is ‘n baie mooi toespraak wat hy gelewer het, maar hy gee nie erkenning aan die feit dat die ANC-raadslede in die Tshwane-metroraad raadslede so erg aangerand het dat hulle in die hospitaal geëindig het nie. Hy gee ook nie erkenning aan die feit dat ‘n Vryheidsfront Plus-raadslid in die Johannesburg-metro ‘n dreigende SMS vanaf die ANC ontvang het om te sê dat ‘as jy nie vir die ANC-kandidaat gaan stem vir burgemeester nie, ons jou vrou en jou kind iets gaan aandoen by jou huis’. Ons moes inspring om vir daardie man veiligheid by sy huis te reël sodat sy gesin beskerm kon word.
“Laastens erken die LUR ook nie die feit dat ‘n VF Plus-raadslid in die Wesrand-distriksmunisipaliteit met die eerste sitting so erg aangerand is dat sy beserings opgedoen het en ‘n saak by die polisie moes oopmaak nie – dit terwyl sy ‘n vrou is en boonop nog ‘n kankerlyer ook is.
“Die LUR is stil oor al hierdie dinge. Dis egter oral in die media.”
'n Hoogs ontstelde Mashatile het nie op hierdie feite gereageer nie.
Tel: 084 015 4722 / 060 556 4347
Philip@vf.co.za / PvanStaden@gpl.gov.za