fbpx
Vryheidsfront Plus

Die ANC-regering se rassepolarisasie maak van Menseregtedag ‘n leë dop

“Pres. Jacob Zuma en die ANC maak van Menseregtedag ‘n leë dop wat nie op enige wyse gevier kan word nie. Die ANC se grootste prestasie sedert 1994 is sekerlik dat hulle dit reggekry het om feitlik alle minderhede in die land te vervreem,” sê dr. Pieter Groenewald, leier van die Vryheidsfront Plus.

“Die ANC se beleid van rasse-klassifikasie in die ekonomie deur middel van regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging skep bloot diepe rasseverdeling in ‘n land waar almal se bydraes nodig is om die ekonomie te groei en armoede aan te pak. Witmense word deur middel van ANC-wetgewing benadeel terwyl bruinmense op ‘n feitelike basis uit die stelsel van swart ekonomiese bemagtiging gehou word deurdat die ANC bloot hulle gewilligheid om deel te neem aan die ekonomie ignoreer.”

“Boonop stook president Zuma rassehaat met sy uitlatings dat grond die oorsaak is van armoede, ongelykheid en werkloosheid in die land en dat die grond in Suid-Afrika gesteel is. Met hierdie opmerking teiken Zuma die wittes in Suid-Afrika asof hulle die oorsaak is van armoede, ongelykheid en werkloosheid. Daar word ook gereeld in die parlement deur die ANC en EFF gesê dat ‘wittes het die grond gesteel’,” het Groenewald verder gesê.

“Die teendeel oor grond is egter waar. Grond vereis harde werk en kundigheid om bewerk te word en om produksie te lewer. Die blote besit van grond gaan nie armoede, ongelykheid en werkloosheid skielik oplos nie. Zuma en die ANC weet nie meer hoe om armoede en werkloosheid op te los nie en nou word op ‘n onverantwoordelike en emosionele wyse die wittes daarvoor beskuldig. Dit is ‘n gevaarlike resep wat rassekonflik skep en minagtend teenoor die menseregte van wittes in die land,” het Groenewald gesê.

“Menseregtedag het in wese sy bestaansrede verloor danksy die rassepolarisasie van die ANC en is nou net ‘n leë dag sonder betekenis.”

 

 

 

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.