Noordwes se regering gaan luidens berigte beheer neem van nege van die provinsie se 23 munisipaliteite insluitende die Ditsobotla-plaaslike munisipaliteit, sê Michal Groenewald, leier van die VF Plus in Noordwes.
Groenewald sê die premier, Supra Mahumapelo, het glo reeds met al die provinsie se munisipaliteite vergader en het gesê hy gaan ‘n onversetlike houding inneem ten opsigte van korrupsie en wanadministrasie.
“Die premier erken dus dat hierdie nege munisipaliteite onder ANC-beheer ‘n mislukking is. Hulle moet eerder ontbind word en nie slegs onder beheer geplaas word van die Noordwes-regering nie.
“Om administrateurs aan te stel beteken nie dat die munisipaliteite meer suksesvol bestuur sal word nie. ‘n Voorbeeld is die Matlosana-munisipaliteit wat na 2 jaar swakker daaraan toe was met ‘n administrateur.
“Indien die premier ernstig was oor sy stelling om ‘n onversetlike houding in te neem sou die munisipale bestuurder van elk van hierdie nege munisipaliteite reeds kennis gekry het van hul afdanking weens wanadministrasie omdat hulle duidelik nie aan hul prestasiekontrakte voldoen het nie.
“Die ANC-beheerde munisipaliteite se bestuur sal moet begin om dissiplinêre stappe te neem teen enige amptenaar wat nie presteer nie of homself skuldig maak aan wanadministrasie,” sê Groenewald.
Kontaknommers: 079 409 8342