Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Vrystaatse provinsiale begroting is gegrond op verkeerde prioriteite

Die Suid-Afrikaanse ekonomie is relatief klein en grootliks op internasionale handel en invloei van kapitaal vanaf die buiteland aangewese, daarom het enige druk op die internasionale ekonomie ernstige gevolge vir die plaaslike ekonomie. Ongelukkig het die Suid-Afrikaanse ekonomie nie net onder blootstelling aan negatiewe faktore van die internasionale omgewing deurgeloop nie, maar is verder verswak as gevolg van plaaslike faktore soos korrupsie, swak bestuur, die verval van infrastruktuur en dienslewering en beleggersonsekerheid,” het Wouter Wessels, VF Plus-LPW in die Vrystaatse Wetgewer, gedurende die debat oor die Vrystaat se provinsiale begroting gesê.

Wessels het gesê dat die VF Plus nie met ‘n begroting kan saamstem wat steeds voorsiening maak vir luukshede en mislukte projekte nie.

“Die Suid-Afrikaanse regering skep ‘n klimaat van onsekerheid deur onverantwoordelike stellings, ondeurdagte aanstellings van ministers en senior amptenare, ‘n gebrek aan optrede teen korrupte amptenare en algehele onbevoegdheid op alle vlakke van regering.

“Op plaaslike vlak is infrastruktuur in ‘n jammerlike toestand en toe daar wel ‘n begrotingsurplus was, is luukshede en mislukte projekte befonds in plaas van die opgradering en herstel van waterpyplyne, paaie, rioolstelsels en ander gebrekkige infrastruktuur,” het Wessels gesê.

Volgens Wessels is daar wel ‘n elite wat deurentyd voordeel trek, maar dat dit nie die wit elite is waarna die ANC-regering by monde van sy provinsiale hoofsweep, mnr. Neels van Rooyen, verwys nie, maar eerder die elite van die Guptas, die regerende party se binnekring en korrupte leierskap en amptenary wat provinsiale fondse gebruik vir luukshede en mislukte projekte, omdat hulle finansiële voordeel daaruit trek terwyl werkskepping nie gestimuleer word nie en die ekonomie verswak.

In ‘n sukkelende ekonomie en provinsie moet alle beskikbare fondse aangewend word om noodsaaklike gebrekke en tekorte aan te spreek, aldus Wessels.

Die provinsiale regering moet ophou dink in terme van miljoene en miljarde, maar eerder in terme van rand en sent. Korrupsie moet bekamp word en onnodige uitgawes, swak finansiële bestuur en verkeerde finansiële prioriteite moet aangespreek word en dit moet by die grondslag van die provinsie se finansies, die begroting, begin.

Die provinsiale tesourie het toenemende opgelope en ongemagtigde uitgawes in terme van munisipale dienste, erfbelasting en die salarisrekening van die staat as 'n fiskale risiko geïdentifiseer. Daar is egter nie 'n konkrete plan om hierdie tekorte aan te spreek nie en maak die begroting eerder voorsiening vir nie-noodsaaklike projekte soos die provinsiale tydskrif.

 

Kontakbesonderhede: 082 674 6670

 

 

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.