Die leë beloftes van die Gautengse regering het gister tot onrus en geweld gelei.
Meer as 500 inwoners van die Gomorrah-informele nedersetting in die weste van Pretoria het die Nederduits-Hervormde Kerk Wesmoot beskadig, infrastruktuur gevandaliseer en aangrensende inwoners in hul huise vasgekeer.
Die VF Plus se LPW en lid van die Gautengse wetgewer se gemeenskapsveiligheidskomitee, Kobus Hoffman, VF Plus-raadslid en burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid in die Tshwane-metroraad, Grandi Theunissen en VF Plus-raadslid, Morné Erasmus, het van die oggend tot laatnag gemoedere tot bedaring probeer bring.
Beide Hoffman en Theunissen is met klippe bestook terwyl inwoners buitebande in die strate gebrand het.
Die Gautengse provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Elias Mawela, is versoek om versterkings vanuit aangrensende gebiede na die brandpunt te stuur.
Inwoners van Booysens, wat in die straat aangrensend aan Gomorrah woon, is in hul huise vasgekeer en het vir hul lewe gevrees.
Die VF Plus was ook hier teenwoordig toe die polisie se eenheid vir openbare orde kinders en vroue uit hul huise in veiligheid moes bring.
Die party sal wil sien dat die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Lebogang Maile, Gomorrah self besoek om aan die inwoners te verduidelik waarom die beloftes oor behuising en dienste nog nie nagekom is nie.
Hierdie is weereens ‘n bewys dat die ANC nie te vertrou is nie. Die inwoners van Gauteng verdien beter as die ANC.


