Iran se moontlike toetrede tot die Brics-groepering en toenemende eise van Rusland om aktiewe steun van Brics-lande teen die Weste, is besig om ‘n toenemende krisis vir Suid-Afrika te raak.
Iran het formeel aansoek gedoen om deel te word van die Brics-groepering van lande wat tans uit China, Rusland, Indië, Suid-Afrika en Brasilië bestaan. Dit is bekend dat Rusland begerig is om sy invloed deur Brics na die Midde-Ooste uit te brei.
Pres. Wladimir Poetin van Rusland het luidens mediaberigte ook leiers van die Brics-lande verlede week op die Brics-beraad gevra om saam te werk teen die weste se sanksies teen Rusland.
Dit sal Suid-Afrika, wat tot nou toe ‘n houding van neutraliteit en dialoog oor die konflik in Oekraïne gehandhaaf het, dwing om aktief stappe te steun teen pogings om Rusland deur sanksies te oorreed om sy aggressie teenoor Oekraïne te hersien.
Dit, asook die toetrede van ‘n land soos Iran tot Brics, sal Amerika en die Weste toenemend skepties na die Brics-vennote laat kyk.
Suid-Afrika se verhouding met Amerika en die Weste as handelsvennote kan in die proses groot skade berokken word.
Suid-Afrika bevind hom al hoe meer in ‘n ongemaklike situasie weens sy afhanklikheid van veral Amerika op ekonomiese gebied soos die voordelige Agoa-handelsooreenkoms wat sekere Afrika-lande toelaat om goedere belastingvry of teen laer tariewe na Amerika uit te voer.
Dit sou daarom geen verrassing wees indien Amerika Suid-Afrika se Agoa-insluiting in die afsienbare toekoms heroorweeg nie.
Tot dusver is Suid-Afrika se swye oorgesien as blote swye. Deelname aan aktiewe optrede teen die Weste, met nuwe bondgenote soos Iran, kan die situasie laat verander.