Die Mkhondo-plaaslike munisipaliteit se beplande strategiesessie van R600 000 vir amptenare is ‘n skandalige vermorsing van belastingbetalers se geld.
Die besluit van die munisipaliteit wat Amsterdam, eMkhondo/Piet Retief insluit, om bykans R600 000 aan 'n strategiesessie in 'n ander provinsie te bestee, is onaanvaarbaar.
Gesien teen die agtergrond van reuse maatskaplike- en ekonomiese uitdagings in die munisipaliteit soos onder meer ‘n ernstige waterkrisis, kan dit nie bekostig word nie.
Die munisipaliteit sukkel tans ook om 'n Eskom-rekening van meer as R316 miljoen te vereffen.
Die VF Plus het die werkswinkel vir strategiebeplanning wat die komende naweek in Durban plaasvind, hewig teengestaan. Dit kan plaaslik aangebied word teen ‘n fraksie van dié bedrag.
Meer as sestig mense, wat plaaslike munisipale amptenare en hul lyfwagte en sekretaresses insluit, woon dit by.
Die munisipaliteit sukkel om basiese dienste, soos water, te lewer. Inwoners word amper daagliks vir tot vyf ure aaneen sonder water gelaat weens verouderde infrastruktuur en wanbestuur.
Hierdie vermorsing is ‘n klap in die gesig van elke persoon wie se belastinggeld gebruik gaan word.
Die VF Plus sal aanhou druk uitoefen op die ANC-beheerde munisipaliteit om inwoners se belange eerste te stel en belastinggeld vir die regte doel aan te wend. Die inwoners van Mkhondo verdien beter as die ANC.