Die voorgestelde naamsverandering van die Ben Friedman-plein in die Strand na die “Strand Muslim Community Square” het beduidende teenkanting uit die gemeenskap ontlok.
Tydens die openbare deelnameproses het 74 inwoners die vergadering bygewoon, waarvan 54 beswaar aangeteken het teen die voorstel.
Die motivering vir die verandering was om die rol van die Moslem-gemeenskap in die Strand se geskiedenis te erken.
Die voorstellers het egter self aangedui dat die huidige naam nie aanstootlik is nie.
Ben Friedman, wat sedert 1903 ’n groot bydrae tot die ekonomiese ontwikkeling van die Strand gelewer het, word deur die gemeenskap en sy familie as ’n pionier beskou.
Die VF Plus wil beklemtoon dat openbare ruimtes inklusief en neutraal moet bly, sodat dit alle inwoners – ongeag geloofsoortuiging – kan verenig.
Die aanwending van belastinggeld vir simboliese naamsveranderings, veral waar daar duidelike gemeenskapsbeswaar bestaan, is nie verantwoordelik nie.
Die party doen ’n beroep op die Stad Kaapstad om die insette van inwoners ernstig op te neem en eerder te fokus op die dringende diensleweringsbehoeftes wat alle inwoners van Kaapstad raak.


