Die Gautengse wetgewerkomitee, wat oorsig doen oor die premier se kantoor, het eenparig besluit om 'n eie ekonomiese herstelplan vir die provinsie op te stel nadat die VF Plus 'n voorstel in die verband gemaak het.
Die voorstel is eenparig deur alle politieke partye aanvaar weens die gebrek aan sukses van die ANC-regering se ekonomiese planne.
Die VF Plus het vandag tydens die komitee se oorsigdebat in die wetgewer die plan bekend gemaak.
Die komitee se planne behels 'n fokus op sterk ekonomiese ontwikkeling en groei wat volhoubare werk sal skep. Volhoubare werk is die enigste wyse om armoede en ongelykheid uit te wis. Daar sal ook 'n spesiale fokus wees op werkskepping vir die jonger geslag en gestremde persone.
Die komitee het ooreengekom om verskeie ekonome betrokke te kry ten einde die plan op te stel. Die projek sal aan die begin van aanstaande jaar momentum kry.
Die aanvaarding van die VF Plus se voorstel deur die komitee is 'n deurbraak vir die Gautengse wetgewende gesag om nie net oorsig toe te pas oor die regering nie, maar om ook aktief beleid te help vorm.