fbpx
Vryheidsfront Plus

Verkeerde prioriteite wys hoe ANC as regering misluk

(Parlementsdebat: Aansuiweringsbegroting)

Korrupsie, onbevoegdheid en verkeerde prioriteite het nou reeds kenmerkend van die ANC-regering geword; kenmerke van mislukking en ’n totale onvermoë om die land se geldsake te beheer.

Die jongste oudit-uitkomste van staatsinstellings toon aan dat net een van al die staatsentiteite in die land ’n skoon oudit gekry het.

Wat het by die ander gebeur? Hoeveel geld is wanaangewend en gesteel terwyl die land agteruitgaan en miljoene van sy inwoners krepeer?

Onderwysers verdien gemiddeld sowat R20 000 per maand. Hierteenoor het Eskom se oud-bestuurshoof, Brian Molefe R1.1 miljoen per maand verdien. Dit wys hoe verkeerde prioriteite eindelik tot beurtkrag gely het, en waarom die land se onderwysstelsel so swak is.

’n Adjudant-offisier in die polisie verdien gemiddeld slegs R15 000 per maand terwyl ’n spesiale raadgewer vir ’n minister tussen R100- en R185 000 per maand verdien.

Terwyl misdaad buite beheer is, bestee die regering R175 000 aan luukse hotelverblyf vir ’n provinsiale polisiekommissaris.

Terwyl daar nie geld is vir onontbeerlike hulpmiddels nie en ’n moratorium op nuwe aanstellings geplaas is, word R1,8 miljard begroot vir ministers se lyfwagte.

Dit is hoe verkeerde prioriteite lyk terwyl mense werkloos en honger is en die ekonomie uiteenval.

Een uit sewe mense het hul werk in die formele sektor verloor sedert 2018. Tog hou die ANC vol dat hy goed regeer, dat die begroting goed is vir die ekonomie en dat die regering omgee vir die mense van die land.

Hy vertel trots hoe hy Suid-Afrika regruk en korrupsie uitroei. Dit is egter nie ’n prestasie om iets te wil regmaak wat jy self gebreek het en waarvoor jy verantwoordelik is nie.

Terwyl miljoene Suid-Afrikaners desperaat wag op ‘n noodfonds-toelaag, het 170 000 regeringsamptenare reeds ’n wyse gevind om hul hande onwettig op maatskaplike toelae te kry.

Hierdie voorbeelde skets onteenseglik ’n prentjie van ’n mislukte staat en ’n regering sonder leierskap waar korrupsie en onbevoegdheid hoogty vier.

’n Regering sonder gewete wat koud staan teenoor die lot en lyding van sy mense.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.