Die staking by die Pelonomi-hospitaal in Mangaung is die direkte gevolg van onstabiliteit in die hospitaal se bestuur en 'n mislukte provinsiale regering. Dienste by dié hospitaal is tot stilstand gebring weens dié staking.
Die Vrystaatse departement van gesondheid het Vrydag erken dat die onstabiliteit bestaan weens onder meer kritieke poste wat vakant is.
Uit 'n antwoord van die minister van gesondheid, Joe Phaahla, op ‘n vraag van die VF Plus se gesondheidswoordvoerder, Philip van Staden, is daar tans ‘n tekort aan 22 dokters en 113 verpleegpersoneel by dié hospitaal. Hoewel die departement erken dat die vakante kliniese personeel prioriteit geniet, word die poste steeds nie gevul nie.
Daar is ook ‘n tekort aan skoonmakers.
Die gebrek aan bestuur is egter nie tot die hospitaal beperk nie. Uit die departement se jaarverslae wat tydens 'n portefeuljekomiteevergadering van die Vrystaatse wetgewer bespreek is, is dit duidelik dat die ANC-regering nie gesondheidsorg in die provinsie kan verseker nie.
Twee distrik-gesondheidsrade funksioneer nie weens die feit dat munisipale raadslede nie vir vergaderings beskikbaar was nie.
Daar is ook vier hospitale wat tans wanfunksionele rade het.
Die departement sukkel ook steeds om die R104 miljoen se uitstaande skuld van die Lesotho-regering in te vorder.
Dit is duidelik dat die ANC-regering die mense van die Vrystaat faal en dat die departement van gesondheid in chaos gedompel is.
Vrystaters verdien effektiewe bestuur van die gesondheidsorgstelsel waar pasiënte se belange prioriteit geniet.