fbpx
Vryheidsfront Plus

Hof se uitspraak oor Zuma bevestig gekonkel met mediese parool

Vandag se hooggeregshof-uitspraak wat oud-president Jacob Zuma terugstuur tronk toe, is ‘n oorwinning vir geregtigheid en bevestig die vermoede dat Zuma se mediese parool net ‘n rookskerm was om hom uit die gevangenis te hou.

Dit sê baie oor die aangeleentheid dat die hooggeregshof in Pretoria in sy uitspraak die mediese parool wat op 5 September vanjaar aan Zuma toegestaan is, as “onwettig” verklaar het.

Dit beteken dat Arthur Fraser, voormalige nasionale kommissaris van korrektiewe dienste wat besluit het oor die parool, onwettig opgetree het en hy sal hieroor verantwoording moet doen.

Die regsproses het groot koste-implikasies gehad en die VF Plus is van mening dat hierdie geld van Fraser verhaal moet word.

Die minister van justisie en korrektiewe dienste, Ronald Lamola, kan ook nie voortgaan om sy skouers oor die aangeleentheid op te trek nie.

Luidens mediaberigte het min. Lamola tot dusver gesê hy “distansieer” hom van die beslissing oor die mediese parool aangesien Fraser die parool toegestaan het en nie hy nie.

Die minister het wel luidens ‘n berig in Independent Media gesê hy sal teen Fraser optree indien daar “verkeerd opgetree is” in die besluit oor Zuma se parool. Hy moet dit nou doen.

Die VF Plus sal ook nie toelaat dat die minister so maklik sy verantwoordelikhede ontduik nie. Daar het baie vrae rondom Zuma se gesondheid bestaan en die besluit om hom op mediese parool te plaas, is wyd bevraagteken.

Terwyl dit gebeur het, het Lamola besluit om anderpad te kyk. Dit is duidelik dat hy Zuma met hierdie optrede ter wille was en sodoende deel gehad het in optrede wat ‘n hof nou as onwettig bestempel het.

Die wiele van geregtigheid draai stadig en soms te stadig, maar hierdie uitspraak stuur die boodskap dat geregtigheid eindelik tog seëvier.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.