Die VF Plus het die Ekurhuleni-metroraad se munisipale departement van water en sanitasie versoek om dringend rioolpompstasie 3 in Bonaeropark, Kemptonpark te herstel om te verhinder dat omliggende erwe oorspoel word met riool.
Die VF Plus het die pompstasie besoek nadat inwoners die party om hulp genader het.
Volgens inwoners is die rioolprobleem drie jaar gelede vir die eerste keer by die metroraad aangemeld.
Sedertdien het erwe langs die pompstasie al agt keer oorstroom waarna munisipale werkers die riool met besems uit die erwe gevee het.
Hulle het ook die panele van die voorafvervaardigde muur rondom die pompstasie verwyder om die riool na ‘n aangrensende vleiland te herlei.
Die VF Plus sal aanstaande week, vergesel van amptenare, al die rioolpompstasies in Kemptonpark besoek om eerstehands die toestand en probleme by elke pompstasie vas te stel en oplossings te vind.
Die VF Plus sal nie toelaat dat inwoners gestraf word vir die metroraad se onbevoegdheid om kritieke infrastruktuur in stand te hou en betyds op te gradeer nie en sal daarop aandring dat meer fondse hiervoor bewillig word.
Inwoners van Kemptonpark verdien die dienste waarvoor hulle ten duurste betaal.
Navrae: 079 224 7321