fbpx
Vryheidsfront Plus

Adjunkminister van Cogta staan by ANC-beleid om munisipaliteite as proefkonyn te gebruik vir sy mislukte toepassing van regstellende aksie

Dit is ‘n skande dat die ANC-regering ten spyte van die ooglopende landwye verval van plaaslike regerings steeds voortgaan om munisipaliteite te gebruik as proefkonyn om sy mislukte beleid van regstellende aksie (RA) en kaderontplooiing toe te pas.

Dit blyk uit die antwoord van die adjunkminister van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Thembi Nkadimeng, op ‘n vraag van die VF Plus tydens gister se vraag- en antwoordsessie in die parlement. Die VF Plus wou weet of die ANC-regering gaan wegdoen met sy mislukte beleid van RA en kaderontplooiing by munisipaliteite om te voorkom dat plaaslike regerings verder in duie stort.

Nkadimeng het benadruk dat die regering verbind bly tot RA en in besonder die aanstelling van jeugdiges en vroue in bestuursposte by munisipaliteite ondanks die verval.

Volgens Nkadimeng sal dit “bemagtiging” meebring en ervaring in kernposte is slegs een van die faktore wat met aanstellings oorweeg word.

Dit is ironies dat Nkadimeng, wat voorheen die burgemeester van die Polokwane-plaaslike munisipaliteit was hierdie uitsprake maak synde dié munisipaliteit berug is vir swak dienslewering, korrupsie en bedrog.

Sy het dus eersterangse ervaring van die gevolge van die ANC se mislukte eksperimente en beleid. Haar stellings is ‘n verleentheid vir die land en ‘n klap in die gesig van getroue belastingbetalers.

Die VF Plus het haar verder daarop gewys dat hierdie ANC-praktyke aanleiding gegee het dat professionele kundiges, wat broodnodig is om munisipale verval te stuit nie, nie meer bereid is om aansoek te doen vir kernposte nie uit vrees dat sulke aanstellings hul professionele status sal skaad.

Die ANC het met sy RA-beleid en gepaardgaande korrupsie só ‘n toksiese omgewing van verval op plaaslike regeringsvlak geskep dat die skade byna onomkeerbaar is.

Slegs professionele en kundige aanstellings in kritieke poste, ongeag velkleur, sal die situasie kan beredder.

Die VF Plus sal nie ophou om die ANC se RA-beleid teen te staan en die plundering van belastingbetalersgeld te ontbloot en te bestry nie.

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.