Die ontploffing Woensdagmiddag in die middestad van Johannesburg en die voortdurende waterkrisis in talle dorpe in Gauteng, is slegs twee voorbeelde van die toenemende agteruitgang van infrastruktuur onder ʼn ANC-regering.
Die gebrek aan infrastruktuur-onderhoud, korrupsie en kaderontplooiing sonder die vereiste tegniese kennis en vaardigheid, het gevorder tot op ʼn punt waar die totale openbare infrastruktuur in die ekonomiese hartland van Suid-Afrika ineenstort.
Die koste om fisieke skade asook die skade aan die ekonomie te herstel, sal meer beloop as wat uitbreiding en nuwe infrastruktuur sal kos.
Die spoorlyne, paaie en staatsinfrastruktuur is reeds op byna alle vlakke gekaap en word bestuur deur swak beleid en kontrakte aan korrupte swart ekonomiese bemagtigingsmaatskappy (SEB) wat politieke bande met die ANC het.
Munisipale krag, water- en rioolinfrastruktuur in Gauteng raak toenemend onstabiel met krag- en wateronderbrekings asook rioolstortings in riviere en spruite wat ʼn algemene verskynsel geword het.
Talle sake-ondernemings en veral industrieë moet teen groot koste met ná belaste geld die minimum ondersteunende infrastruktuur skep om hul deure oop te hou en toon reeds groot verliese. Dit skaad onafwendbaar beleggersvertroue in die provinsie en lei tot werksverliese.
Die inwoners en kiesers van Gauteng gaan ná bykans 30 jaar van die ANC se swak regering, korrupsie en staatskaping self moet beskik en beheer neem oor die toekoms van die ekonomiese hartland van Suid-Afrika.
Opposisiepartye, die sakesektor, kerke en burgerregte-organisasies sal moet kragte saamsnoer in die proses om die ANC in 2024 by die stembus te verslaan.
Die ANC het reeds in 2021 minder as 50% steun behaal in die drie metrorade in Gauteng met marginale steun in die ander munisipale rade. In die Gautengse wetgewer is die ANC in beheer met ʼn meerderheid van slegs een setel.
Die VF Plus doen ʼn beroep op alle stemgeregtigde inwoners van Gauteng om te registreer, die ANC en EFF uit te stem en om soos met die Tshwane-metro, ʼn veelparty-koalisie daar te stel wat nuwe hoop en groei in die provinsie teweeg sal bring