Die VF Plus is versigtig optimisties oor die nuwe voorgestelde regulasies vir die plasing van radioteleskope as deel van die internasionale SKA-projek.
Dit behels ʼn kleiner oppervlak wat daarvoor uitgesit moet word. Die minister van wetenskap en innovering, dr. Blade Nzimande, het dit op 18 Julie vir kommentaar in die staatskoerant gepubliseer.
Die SKA is ʼn ultrasensitiewe radioteleskoop waarvan al die antennas saam by voltooiing ʼn vierkante kilometer sal beslaan. Die oorwig van antennas val binne ʼn 20km “virtuele kern” wat daarvoor uitgekoop en van alle verkeer en ekonomiese bedrywighede onttrek is.
Daar is egter nog 24 antennas wat buite die kern opgerig moet word, in sogenaamde spiraalarms.
Volgens die vorige regulasies sou ʼn 10 kilometer breë beskermende strook uitgesit moes word om die antennas se staanplekke met mekaar te verbind. Dit is nou verklein tot ʼn beskermende “kamp” van 4 hektaar (200m by 200m) vir elke antenna en ʼn pad wat dit met mekaar verbind.
Terwyl dit dus lyk of die SKA se voetspoor ten koste van plaaslike kleinveebedrywighede verklein, los dit nie grondeienaars se probleme op nie. Sommige boere betwis die metode wat gevolg is om die ekonomiese invloed op plase te waardeer.
Verder is die gebrek aan omheining van grond wat aan die SKA behoort, ʼn doring in die vlees. Sanparke is veronderstel om die grond te bestuur. Die Suid-Afrikaanse Radio-astronomie Observatorium (SARAO) wat die SKA bestuur, moet eers die grond omhein.
Ná etlike jare se beloftes is daar nog geen aanduiding dat dit gebeur nie en naburige kleinveeboere het toenemend met probleemdiere soos rooikatte te kampe.
Die VF Plus erken en waardeer die omvang van die SKA en die positiewe gevolge vir die land as geheel en die wetenskap in die algemeen. Nogtans moet die negatiewe impak op gemeenskappe wat reeds in die omgewing woon, voortdurend in ag geneem word.
Die VF Plus het hom al deeglik gevestig as ʼn pleitbesorger vir die plaaslike gemeenskappe, veral die boerderybevolking. Kleinveeboerdery bly steeds, ten spyte van die internasionale profiel van die SKA, die hoeksteen waarop plaaslike ekonomieë gebou word.
Die volle teks van die nuwe voorgestelde regulasies is hierby aangeheg. Kommentaar kan tot op 16 September (60 kalenderdae vanaf publikasie) aan mnr. Mere Kgampe by Mere.kgampe@dst.gov.za gestuur word.


