Teenstroping in Mpumalanga se natuurreservate sal nou daadwerklike aandag geniet van die departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme
Die betrokke LUR, me. Nomphu Hlophe, het in ‘n vergadering met die VF Plus onderneem om self druk toe te pas op Mpumalanga se toerisme- en parkeraad (MTPA) om toe te sien dat dit gebeur.
Me. Hlophe het ook beloof dat daar ekstra fondse vir teenstroping beskikbaar gestel sal word.
Die VF Plus het al in 2021 die toenemende onwettige wildstropery in staatsreservate in die provinsie uitgewys. Verskeie reservate soos die Songimvelo-natuurreservaat is reeds amper leeg gestroop. Heinings rondom verskeie reservate is in ‘n haglike toestand, en die plaaslike gemeenskappe se beeste wei in dié beskermende gebiede.
Die tragiese voorval waar ‘n luiperdmannetjie onlangs in ‘n strik in die Manyeleti-reservaat gevang is, het opnuut beklemtoon hoe belangrik teenstropery is. Luidens die departement se jongste finansiële begroting vir die komende jaar is geen fondse daarvoor beskikbaar gestel nie.
Me. Hlophe het ook toegegee dat die privaatsektor die regering mag bystaan met teenstropingsprogramme rondom die staatsreservate.
Die departement sal verseker dat die wildsheinings ook dringende aandag geniet.
Die LUR het beaam dat daar binnekort met fase twee van die herstel van heinings rondom Songimvelo en Manyeleti begin sal word. Fase een is lank reeds gefinaliseer.
Die VF Plus sal die proses streng volg om te verseker dat al die beloftes uitgevoer word. Daar sal ook verdere druk geplaas word om bewusmakingsveldtogte in die plaaslike gemeenskappe rondom die reservate te hou.
Dit is die enigste manier om te verseker dat wild en die natuur behoue sal bly vir ons nageslagte.