Vinnige reaksie en samewerking tussen Brakpan-inwoners, die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), private veiligheidsmaatskappye en die VF Plus het daartoe gelei dat ‘n verdagte kabeldief in Prince George-laan, Brakpan, in hegtenis geneem is.
Twee VF Plus-raadslede het op ‘n wenk van die publiek gereageer en die verdagte gekonfronteer waar hy besig was om kragkabels uit ‘n beskadigde lamppaal te verwyder.
Hy het op die vlug geslaan en is met behulp van gemeenskapslede, ‘n lid van die GPF en reaksielede van Secure Tech aangekeer en aan die Ekuhuleni-metropolisie oorhandig. ʼn Strafsaak is aanhangig gemaak.
Die VF Plus sal die saak opvolg om te verseker dat dit die nodige aandag geniet.
Kabeldiefstal en vandalisme kos nie net die Ekurhuleni-metro en belastingbetalers geld nie, maar beskadig noodsaaklike infrastruktuur en dra direk by tot swak dienslewering.
Hierdie voorval bewys weereens wat bereik kan word wanneer inwoners, gemeenskapsorganisasies, sekuriteitsmaatskappye, wetstoepassers en openbare verteenwoordigers saamwerk.
Inwoners kan op 4 November 2026 vir die VF Plus stem om te verseker dat daar steeds saamgewerk word om misdaad in gemeenkappe te voorkom.


