Die hooggeregshof in Pretoria se beslissing om die minister van handel, nywerheid en mededinging, Parks Tau, se besluit om die Regssektorkode van Goeie Praktyk (Legal Sector Code of Good Practice) te promulgeer, tersyde te stel, stuur ’n belangrike boodskap oor die uitoefening van ministeriële mag.
Die VF Plus verwelkom die beginsel wat uit die uitspraak na vore kom, naamlik dat ’n minister nie bloot ’n sektorale swart ekonomiese bemagtiging-kode (SEB-kode) kan aanvaar en promulgeer sonder om self die statutêre vereistes en die regverdiging vir ingrypende afwykings van die algemene SEB-kodes behoorlik te oorweeg nie.
Die saak gaan nie daaroor dat die hof SEB of transformasie as sodanig onwettig verklaar het nie. Die kern is dat die minister sy eie onafhanklike statutêre diskresie behoorlik moet uitoefen.
Dit is veral belangrik omdat die SEB-kode vir die regssektor ingrypende vereistes vir onder meer eienaarskap, bestuur, vaardigheidsontwikkeling en verkryging in die regsberoep voorgeskryf het.
Die uitspraak behoort daarom as ’n waarskuwing aan die regering te dien dat beleid nie deur regulasie in werking gestel kan word sonder behoorlike, onafhanklike en rasionele besluitneming nie.
Die VF Plus sal voortgaan om wetgewing en beleid wat op rasgegronde ekonomiese vereistes berus, krities te toets teen die beginsels van gelykheid, ekonomiese vryheid, eiendomsreg, mededinging en werklike ekonomiese bemagtiging.
Suid-Afrika het ’n ekonomiese beleid nodig wat geleenthede verbreed, ondernemings laat groei en werk skep – nie ’n stelsel wat deur toenemende burokratiese en rasgegronde vereistes deelname aan die ekonomie bemoeilik nie.


